Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 14:7-16 Die Boodskap (DB)

7. Toe het hulle vinnig omgedraai en na die fontein van Oordeel (dit is Kades) teruggekeer. Kedorlaomer-hulle het onverwags op die Amalekiete toegeslaan en hulle gebied verower. Al die Amoriete wat destyds in Gaseson-Tamar gewoon het, is ook onderwerp.

8. Toe die konings van Sodom, Gomorra, Adma, Sebojim en Bela (dit is Soar) van Kedorlaomer-hulle se opmars hoor, het hulle in die Siddimvlakte bymekaargekom en vinnig hulle troepe vir die geveg opgestel.

9. Teenoor hulle het die gevegsmagte van koning Kedorlaomer van Elam, koning Tidal van Gojim, koning Amrafel van Sinar, en koning Arjok van Ellasar stelling ingeneem. Hierdie vier konings moes toe teen die ander vyf se magte veg.

10. Kedorlaomer-hulle het gou die oorhand gekry en die mense het begin vlug. Oral in die Siddimvlakte was daar asfaltgate, en soos die mense gevlug het, het hulle daarin geval. Sodom en Gomorra se konings het ook daarin geval. Die res het berge toe gevlug.

11. Daarna het Kedorlaomer-hulle op Sodom en Gomorra toegesak en alles gevat. Hulle het al die kos weggevat en sommer ook ’n klomp mense saam met hulle geneem.

12. Een van hierdie mense was Lot, die broerskind van Abram. Hy het destyds in Sodom gebly. Hulle het al sy besittings gevat en hom gedwing om saam met hulle te gaan.

13. Iemand wat die geveg oorleef het, het vir Abram van Lot gaan vertel. Abram het in dié tyd by die groot bome van die Amoriet Mamre, ’n broer van Eskol en Aner, uitgekamp. Hierdie mense was Abram se bondgenote.

14. Toe Abram hoor dat sy broerskind gevang is, het hy onmiddellik opgetree. Hy het 318 van sy eie werkers geneem en die vyand in die rigting van Dan agtervolg.

15. In die nag het Abram sy manne stilletjies ontplooi en onverwags op die Kedorlaomermanne toegesak. Hulle het die vyand byna vernietig en die vlugtendes tot so ver as Hoba, noord van Damaskus, agternagesit.

16. Abram het sy broerskind, Lot, gou opgespoor en hom met al sy besittings teruggebring. Abram kon ook al die besittings sowel as al die vroue en kinders wat Kedorlaomer se manne gevat het, terugkry.

Lees volledige hoofstuk Genesis 14