Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 14:3-12 Die Boodskap (DB)

3. Bera en die ander konings het toe ’n bondgenootskap gevorm en in die Siddimvlakte (vandag is dit die Soutsee) bymekaargekom.

4. Twaalf jaar lank moes hulle Kedorlaomer dien, maar in die dertiende jaar het hulle net besluit om te rebelleer.

5. ’n Jaar later het Kedorlaomer en sy bondgenote met ’n militêre veldtog begin. Blitssnel het hulle die Refaïete in Asterot-Karnajim, die Sussiete in Ham, die Emiete in die Kirjatajimvlakte

6. en die Goriete in die Seïrberge tot by El-Paran aan die randjie van die woestyn vernietig.

7. Toe het hulle vinnig omgedraai en na die fontein van Oordeel (dit is Kades) teruggekeer. Kedorlaomer-hulle het onverwags op die Amalekiete toegeslaan en hulle gebied verower. Al die Amoriete wat destyds in Gaseson-Tamar gewoon het, is ook onderwerp.

8. Toe die konings van Sodom, Gomorra, Adma, Sebojim en Bela (dit is Soar) van Kedorlaomer-hulle se opmars hoor, het hulle in die Siddimvlakte bymekaargekom en vinnig hulle troepe vir die geveg opgestel.

9. Teenoor hulle het die gevegsmagte van koning Kedorlaomer van Elam, koning Tidal van Gojim, koning Amrafel van Sinar, en koning Arjok van Ellasar stelling ingeneem. Hierdie vier konings moes toe teen die ander vyf se magte veg.

10. Kedorlaomer-hulle het gou die oorhand gekry en die mense het begin vlug. Oral in die Siddimvlakte was daar asfaltgate, en soos die mense gevlug het, het hulle daarin geval. Sodom en Gomorra se konings het ook daarin geval. Die res het berge toe gevlug.

11. Daarna het Kedorlaomer-hulle op Sodom en Gomorra toegesak en alles gevat. Hulle het al die kos weggevat en sommer ook ’n klomp mense saam met hulle geneem.

12. Een van hierdie mense was Lot, die broerskind van Abram. Hy het destyds in Sodom gebly. Hulle het al sy besittings gevat en hom gedwing om saam met hulle te gaan.

Lees volledige hoofstuk Genesis 14