Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 8:10-17 Die Boodskap (DB)

10. Mordegai het die briewe in die naam van die koning geskryf en dit met sy seëlring verseël. Daarna het hy die briewe met boodskappers uitgestuur wat met vinnige perde uit die koning se stalle gery het.

11. Volgens die briewe het die koning aan die Jode in al die stede die reg gegee om saam te staan en hulleself te verdedig. Hulle het nou die reg gehad om enige gewapende mag van enige volk of provinsie wat hulle aangeval het voor die voet dood te maak, vroue en kinders inkluis. Hulle kon selfs hulle aanvallers se besittings as buit vir hulleself vat.

12. Die dag waarop hierdie koninklike opdrag in al die provinsies in werking sou tree, was 7 Maart die volgende jaar.

13. Hierdie proklamasie moes in elke provinsie as ’n wet afgekondig word en almal moes daarvan weet. Dit sou verseker dat die Jode gereed sou wees om wraak te neem op hulle vyande wanneer daardie dag aanbreek.

14. Die koninklike perderuiters is toe op bevel van die koning haastig daar weg. Hierdie koninklike bevel is ook in die stad Susan aangekondig.

15. Mordegai het die paleis verlaat, geklee in ’n koninklike mantel van blou en wit en met ’n pragtige goue kroon op sy kop. Bo-oor die mantel het hy ’n kleed van fyn linne en pers stof gedra. Die stad Susan het met vreugde die nuwe proklamasie gevier.

16. Die Jode was opgeruimd en vrolik. Hulle het gevoel dat hulle weer waardige mense was.

17. In elke stad en provinsie waar die koning se proklamasie uitgevaardig is, het die Jode gejuig en reg deur die dag feesgevier. Baie mense het by die Jode aangesluit omdat hulle bang was vir wat die Jode nou aan hulle sou doen.

Lees volledige hoofstuk Ester 8