hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10

Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 5 Die Boodskap (DB)

Ester nooi Haman en die koning vir ete

1. Drie dae later het Ester haar koninklike klere aangetrek en in die voorportaal van die paleis regoor die troonsaal van die koning gaan staan. Die koning het regoor die ingang op sy troon gesit.

2. Toe hy koningin Ester daar in die voorportaal sien staan, was hy so oorrompel deur haar skoonheid dat hy dadelik sy goue septer na haar toe uitgesteek het. Ester het toe nader gekom en aan die punt van die septer geraak.

3. “Wat is dit, koningin Ester?” wou die koning weet. “Sê vir my wat jy wil hê en ek sal dit vir jou gee, al is dit ook die helfte van my koninkryk.”

4. “As dit met u reg is,” sê sy toe, “wil ek graag hê dat u en Haman vanaand my gaste sal wees by ’n ete wat ek vir u voorberei het.”

5. Toe sê die koning: “Gaan haal dadelik vir Haman dat ons kan doen wat Ester vra.” So is die koning en Haman toe daar weg na Ester se ete toe.

6. Terwyl hulle besig was om wyn te drink, vra die koning weer vir Ester: “Wat kan ek vir jou doen? Sê vir my wat jy wil hê en jy kan dit kry, al is dit ook die helfte van my koninkryk.”

7. Toe sê Ester: “Wat ek graag wil hê,

8. dit is nou te sê as die koning dit wil doen, is dat u en Haman môre weer my gaste sal wees by ’n ete. By daardie ete sal ek vir u sê wat ek wil hê.”

Haman se plan om Mordegai dood te maak

9. Haman is vrolik en opgeruimd daar weg. Maar toe hy vir Mordegai by die hek van die paleis sien sit en dié weer nie opstaan om hom te groet nie, was hy woedend.

10. Haman het hom egter ingehou en huis toe gegaan. Daar aangekom, het hy sy vriende en sy vrou, Seres, geroep

11. en by hulle gespog oor hoe ryk hy was en hoe baie kinders hy gehad het. Hy het ook gespog oor die feit dat die koning hom eerste minister gemaak het en dat hy baie belangriker was as al die ander amptenare.

12. “En wat meer is,” spog Haman toe verder, “koningin Ester het ’n ete spesiaal net vir my en die koning gegee. En sy het my uitgenooi om môre weer saam met haar en die koning te eet.

13. Maar tog beteken dit alles vir my niks terwyl daardie Jood Mordegai nog by die paleis se ingang sit nie.”

14. Sy vrou, Seres, en sy vriende gee hom toe ’n plan: “Hoekom laat bou jy nie ’n 23 meter hoë galg nie? Dan kan jy môreoggend vir die koning vra om Mordegai te laat ophang. Daarna kan jy sonder probleme saam met die koning na die ete toe gaan.” Haman het van die idee gehou en die galg laat bou.