hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10

Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 9 Die Boodskap (DB)

Die oorwinning van die Jode oor hulle vyande

1. Toe het 7 Maart van die volgende jaar aangebreek, die dag waarop die koninklike proklamasie in werking moes tree en waarop die vyande van die Jode gehoop het om hulle in hulle mag te kry. Maar op dié dag het presies die teenoorgestelde gebeur. Dit was nou die Jode wat hulle vyande oorweldig het.

2. Hulle het in al hulle stede in die provinsies van koning Ahasveros se ryk bymekaargekom om hulleself te verdedig teen enigiemand wat hulle kwaad probeer aandoen het. Maar niemand wou so ’n kans waag nie, want almal was te bang vir hulle.

3. Om die waarheid te sê, al die bestuurders van die provinsies, die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs en die ander mense in die koning se diens het hulle eerder gehelp omdat hulle bang was vir Mordegai.

4. Want Mordegai het alreeds ’n hoë posisie in die paleis beklee en het by die dag magtiger geword.

5. Maar die Jode het hulle teëstanders met die swaard uitgeroei. Hulle het hulle vyande doodgemaak en vermorsel. Met almal wat hulle gehaat het, het hulle gedoen net wat hulle wou.

6. In Susan alleen het hulle 500 mense doodgemaak.

7-10. Onder hulle was die tien seuns van Haman, die seun van Hammedata, die vyand van die Jode: Parsandata, Dalfon, Aspata, Porata, Adalja, Aridata, Parmasta, Arisai, Aridai en Wajesata. Maar die Jode het nie hierdie mense se besittings gevat nie.

11. Die koning is daardie selfde dag nog ingelig oor hoeveel mense in die stad Susan doodgemaak is.

12. Hy sê toe vir koningin Ester: “In die stad Susan alleen het die Jode, buiten die tien seuns van Haman, nog 500 mense doodgemaak. As hulle dit hier gedoen het, dink net wat in die res van die provinsies gebeur het! Nou, is daar nog iets wat jy wou gehad het? Sê net en jy sal dit kry. Jy hoef net te vra.”

13. Hierop was Ester se antwoord: “As dit die koning se goedkeuring wegdra, laat die Jode in Susan môre weer toe om te doen wat hulle vandag gedoen het. En wat die lyke van die tien seuns van Haman betref, laat hulle in die openbaar ten toon gestel word.”

14. Die koning het ingestem en so ’n proklamasie is in Susan uitgevaardig. Die liggame van Haman se tien seuns is ook in die openbaar ten toon gestel.

15. Op 8 Maart het die Jode van Susan weer bymekaargekom en nog 300 mense in die stad doodgemaak. Maar hulle het weereens nie hierdie mense se besittings gevat nie.

16. Die Jode in die ander provinsies van die ryk het ook bymekaargekom om hulleself teen hulle vyande te verdedig. Hulle het goed daarin geslaag, want hulle het 75 000 van hulle doodgemaak, maar nie hulle besittings gevat nie.

17. Dit het op 7 Maart gebeur, maar die volgende dag het hulle opgehou om mense dood te maak. Hulle het vrolik feesgevier.

18. Die Jode in die stad Susan het egter op 7 en 8 Maart nog teen hulle vyande geveg. Hulle het eers op die negende Maart opgehou en dit toe as ’n feesdag vol vreugde gevier.

19. Daarom vier die Jode wat op die platteland bly, hierdie feesdag nog steeds op die agtste Maart. Dit is ’n vrolike fees waarop hulle vir mekaar lekkernye en kos stuur.

Die Purimfees

20. Mordegai het al hierdie dinge laat neerskryf en vir al die Jode oral in die provinsies van koning Ahasveros se ryk briewe gestuur.

21. Daarin het hy hulle aangemoedig om jaarliks hierdie twee dae as feesdae te vier.

22. Dit sou hulle daaraan herinner dat hulle op hierdie dae hulle vyande oorwin het. En dat hulle hartseer in vreugde en hulle rou in blydskap verander is. Daarom moes dit ’n vrolike fees wees waarop hulle vir mekaar lekkernye en vir die armes geskenke gee.

23. Die Jode het van Mordegai se idee gehou en dit as ’n jaarlikse fees ingestel.

24. Haman, die seun van Hammedata, ’n afstammeling van koning Agag van die Amalekiete en ’n vyand van die Jode, het die lot gewerp (ook genoem die Pur) om te bepaal watter dag hy sou gebruik om die Jode te vernietig. Hy was van plan om hulle totaal uit te roei.

25. Maar toe die koning daarvan te hore kom, het hy ’n skriftelike opdrag gegee dat Haman en sy seuns self die slagoffers moes word van sy bose plan. So het hulle almal uiteindelik in die openbaar aan die galg gesterf.

26. Daarom word hierdie fees die Purimfees genoem, want dit word afgelei van die woord “Pur”. Na aanleiding van alles wat Mordegai in sy brief geskryf het en alles wat hulle self ervaar het,

27. het die Jode besluit dat hierdie twee dae deur hulle en hulle nageslagte, asook deur mense uit ander volke wat by hulle aangesluit het, as feesdae gevier moes word. Hulle het besluit om hulle streng te hou by die reëls en voorskrifte van die fees.

28. Hulle het beveel dat elke Joodse familie van elke toekomstige geslag in elke provinsie en in elke stad hierdie twee dae moes herdenk en die Purimfees vir altyd moes vier.

29. Toe het koningin Ester, die dogter van Abigajil en die Jood Mordegai, ook ’n brief geskryf waarin sy die brief wat Mordegai vroeër geskryf het, ondersteun. Op hierdie manier het sy die Purimfees bekragtig.

30. Ander briewe met wense van vrede en voorspoed is ook aan die Jode in die 127 provinsies in die ryk van koning Ahasveros gestuur.

31. Hierdie briewe het hulle en hulle nageslagte aangemoedig om die Purimfees te hou soos die Jood Mordegai en koningin Ester dit bepaal het. Hulle moes dit net so getrou en noukeurig nakom soos hulle met die vasdae en routye gemaak het.

32. Ester se voorskrifte oor die Purimfees is toe in ’n boek neergeskryf.