Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 2:16-23 Die Boodskap (DB)

16. In die tiende maand, genoem die maand Tebet, en in die sewende regeringsjaar van koning Ahasveros, is Ester na hom toe geneem in sy paleis.

17. Die koning het meer van haar gehou as van enige van die ander meisies. Hy was so beïndruk met haar dat hy haar dadelik as koningin in Vasti se plek gekroon het.

18. Om hierdie geleentheid te vier het die koning ’n groot onthaal ter ere van Ester gegee waarheen hy al sy hoë amptenare en ander mense wat in sy diens was, uitgenooi het. Hy het dit ook ’n openbare vakansiedag gemaak en geskenke aan die mense uitgedeel.

19. Nadat al die jongmeisies na die ander deel van die vrouekwartiere toe is, is Mordegai in ’n administratiewe posisie aangestel.

20. Ester het nog steeds niks oor haar agtergrond of haar herkoms gesê nie. Sy het nog na Mordegai geluister soos voorheen toe sy deel was van sy huisgesin.

21. Gedurende die tyd wat Mordegai in diens van die koning was, het Bigtan en Teres, twee van die koning se persoonlike lyfwagte, kwaad geword vir koning Ahasveros en planne beraam om hom te vermoor.

22. Mordegai het daarvan te hore gekom en dit vir koningin Ester vertel. Ester het op haar beurt vir die koning vertel wat Mordegai uitgevind het.

23. ’n Ondersoek het toe aan die lig gebring dat Mordegai die waarheid praat. Die twee skuldiges is dadelik gehang. Die koning het opdrag gegee dat hierdie gebeurtenis amptelik as deel van die geskiedenis van sy regeringstyd opgeteken moes word.

Lees volledige hoofstuk Ester 2