Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 1:1-2-16 Die Boodskap (DB)

1-2. Die volgende verhaal het in die tyd van koning Ahasveros van Persië afgespeel. Uit sy paleis in Susan het hy oor 127 provinsies regeer, wat gestrek het van Indië af tot by Etiopië.

3. In sy derde jaar as koning het hy ’n groot fees gehou vir al sy hoë amptenare en ander werknemers. Die weermagoffisiere van Persië en Medië was daar, asook ander uitgesoekte gaste en die regeerders van die provinsies.

4. Ses maande lank het hy met sy rykdom en indrukwekkende koninkryk gespog.

5. Daarna het die koning almal in die stad Susan ’n week lank in die paleistuin onthaal. Dit het nie saak gemaak of hulle belangrik was of nie, ryk of arm, almal is uitgenooi.

6. Die binnehof was baie mooi versier. Blou en wit linnedoeke is met pers linte aan silwerringe teen die marmerpilare vasgemaak. Goue en silwerrusbanke is oral in die binnehof neergesit op plaveisel van baie kosbare stene en klippe.

7. Die wyn is in goue bekers bedien wat ryklik versier was. Die koning het ook gesorg dat daar nie ’n tekort aan wyn uit sy kelder was nie.

8. Die enigste reël wat by die koning se fees gegeld het, was dat niemand gedwing moes word om meer of minder te drink as wat hy wou nie. Die paleispersoneel moes elkeen toelaat om self te besluit.

9. Terselfdertyd het koningin Vasti ook die vroue in die paleis onthaal.

10. Op die sewende dag van die onthaal het die koning, wat toe al redelik dronk was, sewe van sy paleisbeamptes geroep. Hulle was Mehuman, Bisseta, Garbona, Bigta, Abagta, Setar en Karkas.

11. Hy het hulle beveel om koningin Vasti, met haar kroon op, na hom toe te bring. Die koningin was ’n pragtige vrou en die koning wou graag by al sy hoë amptenare en gaste met haar skoonheid spog.

12. Toe die beamptes vir koningin Vasti gaan sê dat sy na die koning toe moet kom, het sy geweier. Dit het die koning woedend gemaak.

13. Hy het toe, soos sy gebruik in moeilike situasies was, raad gevra by sy adviseurs wat al die Persiese wette en gebruike geken het.

14. Die persone by wie hy die meeste van die tyd raad gevra het, was Karsena, Setar, Admata, Tarsis, Meres, Marsena en Memukan, die sewe hoofamptenare van Persië en Medië. Hulle het direkte toegang tot die koning gehad en ook die belangrikste posisies in sy koninkryk beklee.

15. Hy sê toe vir hulle: “Ek, koning Ahasveros, het my amptenare na koningin Vasti toe gestuur met ’n opdrag, en sy het geweier om dit uit voer! Wat moet ons volgens die wet met haar doen?”

16. Toe sê Memukan vir die koning en sy hoë amptenare: “Koningin Vasti het nie net die koning beledig nie, maar ook elke amptenaar en elke mens in die koninkryk.

Lees volledige hoofstuk Ester 1