Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 8:15-22 Die Boodskap (DB)

15. Ek het almal by die kanaal wat na Ahawa vloei, bymekaar laat kom. Ons het drie dae lank daar oorgestaan. Ek het priesters onder die groep gekry. Daar was egter geen Leviete in die groep nie.

16. Ek het die leiers Eliëser, Ariël, Semaja, Elnatan, Jarib, Elnatan, Natan, Sagaria en Mesullam laat roep en ook die leermeesters Jojarib en Elnatan.

17. Ek het hulle na Iddo, die hoof van die skool by Kasifja, gestuur. Hulle moes gaan kyk of hulle nie by Iddo Leviete kon kry wat bereid was om by die tempel van ons God in Jerusalem te gaan werk nie.

18. Ons God was goed vir ons. Hulle het van daar af vir ons ’n baie bekwame Israeliet gestuur. Sy naam was Serebja. Hy was ’n afstammeling van Levi se seun Magli. Van sy seuns en sy broers uit die Leviete wat saam met hom gekom het, was daar altesaam agtien mans.

19. Hulle het ook Gasabja vir ons gestuur. Jesaja uit Merari se nageslag en sy familie en seuns het saam met hom gekom. Hulle was altesaam twintig mans.

20. Daar het ook 220 tempelwerkers van daar af gekom. Hulle was almal uit die nageslag van die mans wat Dawid en die leiers destyds aangestel het om die Leviete te help. Ook hulle name is opgeneem in die lys mense wat teruggegaan het.

21. Ek het daar by die Ahawakanaal almal opgeroep om niks te eet nie en hulle voor God te verootmoedig. Almal moes tot God bid om ons reis voorspoedig te maak en ons en ons kinders en besittings te beskerm.

22. Toe ons met die koning gepraat het, het ek nog so ewe vir hom gesê dat ons God goed sorg vir dié wat op Hom vertrou, maar Hy straf almal wat niks met Hom te doen wil hê nie. Ek was daarna te skaam om nog vir hom te vra om van sy manne saam met ons te stuur wat ons langs die pad teen aanvallers kon beskerm.

Lees volledige hoofstuk Esra 8