Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 7:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Na hierdie dinge gebeur het, het daar ’n man met die naam Esra gekom. Hy was uit die nageslag van die priester Aäron. Op daardie tydstip was Artasasta koning van Persië. Esra was die laaste in die ry van pa’s en seuns van Seraja, Asarja, Gilkija,

2. Sallum, Sadok, Agitub,

3. Amarja, Asarja, Merajot,

4. Seragja, Ussi, Bukki,

5. Abisua, Pinehas, Eleasar en hulle familiehoof, die priester Aäron.

6. Esra was ’n geleerde man. Hy kon baie goed verduidelik wat die wette beteken wat die Here deur Moses vir Israel gegee het. Die Here het hom beskerm. Hy kon by die koning enigiets kry wat hy gevra het. Hy het in die sewende jaar wat Artasasta koning was, van Babel af in Jerusalem aangekom.

7. Daar het ’n hele klomp ander mense saam met hom gekom. Onder hulle was daar mense uit die gewone Israeliete, die priesters wat by die tempel werk, die priesters uit Levi se familie, die sangers wat by die tempel help, mense wat die hekke oppas en ander mense wat ook by die tempel werk.

8. Hulle het in Jerusalem aangekom in die vyfde maand van dieselfde jaar.

9. Esra het voor die tyd al besluit dat hulle reis na Jerusalem op die eerste van die eerste maand moet begin. God het hom beskerm. Vier maande later het hulle op die eerste van die vyfde maand in Jerusalem aangekom.

10. God was by hom omdat hy met hart en siel die wette van die Here bestudeer het om daarvolgens te lewe. Hy wou graag in Israel ’n leermeester van die reëls en regulasies van die Here wees.

11. Die brief wat koning Artasasta vir Esra, die priester en geleerde in die wet van die Here, gegee het om hom toestemming te gee om Jerusalem toe te gaan, was in Aramees geskryf. Daarin het gestaan:

Lees volledige hoofstuk Esra 7