Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 6:11-22 Die Boodskap (DB)

11. Ek maak ook ’n wet dat enigiemand wat nie met my opdrag wil saamwerk nie, aan ’n houtbalk wat uit sy eie huis kom, opgehang moet word. Sy huis moet ’n ashoop gemaak word.

12. Mag die God wat Jerusalem as die plek vir sy tempel gekies het, elke koning of volk vernietig wat skade aan daardie tempel in Jerusalem probeer aanrig. Ek, Darius, het persoonlik hierdie wet gemaak. Dit moet presies net so gedoen word.

13. Goewerneur Tattenai van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en die ander ampsdraers het Darius se wet na die letter uitgevoer.

14. Die Here se boodskappers Haggai en Iddo se seun Sagaria het hulle moed ingepraat. Die leiers van Juda het flink gevorder met die bouwerk. Uiteindelik het hulle die opdrag klaargemaak wat hulle van die God van Israel en van die Persiese konings Kores, Darius en Ahasveros gekry het.

15. Die bouwerk aan die tempel is afgehandel op die derde dag van die maand Adar in die sesde jaar wat Darius koning was.

16. Die priesters en die Leviete en al die Israeliete wat uit die ballingskap teruggekom het, was baie bly om die tempel te begin gebruik.

17. Toe hulle die tempel ingewy het, het hulle altesaam 100 bulle, 200 ramme en 400 lammers geoffer. Hulle het ook ’n offer gebring vir die sonde. Hulle het vir elkeen van die twaalf families van Israel ’n bokram geoffer.

18. Hulle het die priesters en die Leviete in verskillende groepe ingedeel om hulle werk in die tempel van God in Jerusalem te doen, volgens die voorskrifte van Moses.

19. Die Judeërs wat teruggekom het, het op die veertiende dag van die eerste maand paasfees gehou.

20. Die priesters en die Leviete het hulleself man en muis opnuut aan God verbind om alles vir Hom te doen soos Hy dit van hulle verwag. Hulle het die paaslam vir hulleself en vir die ander priesters geslag en vir almal wat teruggekom het.

21. Die Israeliete wat teruggekom het, het toe saam die paaslam geëet. Ook die mense wat reeds in die land gebly het en wat getrou gebly het aan die Here, die God van Israel, en nie deelgeneem het aan die afgodsdiens van die ander volke in die land nie, het saam met hulle daaraan geëet.

22. Almal was vrolik en het sewe dae lank die fees-sonder-suurdeeg gevier. Die Here het hulle bly gemaak omdat Hy die koning van Assirië se hart verander het sodat hy hulle kon help om die huis van God te bou.

Lees volledige hoofstuk Esra 6