Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 48:10-25 Die Boodskap (DB)

10. Die res van die grond moet aan die mense wat vir My werk, gegee word. Dit moet ’n strook wees van twaalf en ’n half kilometer lank van oos na wes en vyf kilometer breed van noord na suid. Die huis van die Here staan in die middel hiervan.

11. Die grond behoort aan die mense wat in my diens staan, die kleinkinders van Sadok. Hulle het baie lank hard in my huis gewerk. Hulle het nie die slegte dade gedoen wat die Israeliete en die ander mense gedoen het wat in my huis gewerk het nie.

12. Hierdie stuk grond moet vir die mense gegee word wat in my huis werk. Langs die grond van die kleinkinders van Sadok moet jy ook grond gee vir die ander mense wat in my huis werk.

13. Hulle is die kleinkinders van Levi, en jy moet vir hulle ook grond gee langs dié van die kleinkinders van Sadok. Die grond wat jy vir hulle gee, moet twaalf en ’n half kilometer lank en vyf kilometer breed wees.

14. Die mense wat in my huis werk, mag nie die grond wat hulle kry, verkoop nie. Hulle mag nie hierdie deel van die land, wat die beste deel is, verkoop of verruil nie. Hierdie grond mag nie aan iemand anders behoort nie, want dit behoort aan My.

15. “Die res van die grondgebied, ’n strook van twaalf en ’n half by twee en ’n half kilometer, moet julle gebruik om die stad op te bou. Hier kan julle huise bou en julle skape laat wei. Julle moet die stad hier bou.

16. Die stad moet twee en ’n kwart kilometer by twee en ’n kwart kilometer wees.

17. Jy moet aan al vier kante ’n strook van 125 meter los waarop julle niks mag bou nie.

18. Buite die stad moet jy ’n gebied los waarop boere hulle vee kan laat wei. Hierdie gebied moet vyf kilometer na die oostekant en vyf kilometer na die westekant van die stad lê, al langs die grond wat jy vir My eenkant gesit het. Hier moet die grond bewerk word sodat die mense wat in die stad bly, genoeg kan hê om te eet.

19. Die mense uit al die verskillende stamme van Israel wat gekom het om in die stad te werk, mag hierdie grond bewerk.

20. Hierdie hele gebied, wat die area insluit wat vir My eenkant gesit is, en die gebied waarop die stad gebou is, sal twaalf en ’n half kilometer by twaalf en ’n half kilometer wees.

21. “Die grond wat oorbly aan die oostekant en aan die westekant van hierdie area moet julle vir die regeerder gee om daarop te maak wat hy wil.

22. Hierdie stuk grond loop tot by die oosgrens van die land en weswaarts tot by die see en lê tussen die gebied van Juda en dié van Benjamin.

23. “Die res van die grond moet aan die stamme gegee word wat oorbly. Elkeen van hulle moet ook ’n strook van die oosgrens af tot by die wesgrens kry. Benjamin se grondgebied lê suid van die regeerder van die land se grond.

24. Suid van Benjamin se grondgebied lê dié van Simeon.

25. Langsaan is die grondgebied van Issaskar, wat ook nes al die ander gebiede van die oostelike grens af tot by die westelike grens strek.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 48