Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 33:9-12 Die Boodskap (DB)

9. Maar as jy hulle waarsku en vir hulle sê wat Ek jou beveel en hulle hulle nie daaraan steur nie, sal hulle doodgemaak word. As hulle nie omdraai en agter My aanloop nadat jy hulle in my Naam gewaarsku het nie, sal Ek hulle straf. Maar jy sal nie gestraf word vir hulle dood nie, want jy het gedoen wat Ek jou beveel het.

10. “Mens, sê vir die volk Israel wat Ek sê: Julle hou aan met kla dat julle swaar gestraf word. Julle sê julle slegte dade kom op julle eie koppe af. Dit gaan sleg met julle. ‘Ons vergaan,’ sê julle. ‘Ons kan nie só aanhou leef nie!’

11. “So seker as wat Ek leef,” sê die Here, Esegiël se God, “dis nie vir My lekker om mense dood te maak nie. Maar as mense aanhou om slegte dinge te doen en Ek hulle daaroor gewaarsku het, het Ek geen ander keuse as om hulle dood te maak nie. Ek wil so graag hê hulle moet omdraai en agter My aanloop. Ek wil so graag sien dat hulle begin doen wat Ek sê. Dan sal hulle leef! Daarom, draai dadelik om, my volk. Draai weg van jou slegte paaie af. Hoekom tart julle My? Hoekom wil julle hê Ek moet geen ander keuse oorhê as om julle te straf en dood te maak nie?”

12. “Mens, sê vir hierdie klomp mense Ek sê: As mense goedgedoen het, maar dan ophou daarmee en slegte dinge begin doen, sal hulle goeie dade hulle nie red nie. As ’n mens weier om te doen wat Ek hom beveel om te doen, sal Ek hom straf. En as slegte mense ophou om slegte dinge te doen en omdraai en agter My aanloop, sal Ek hulle nie straf vir hulle slegte dade nie. Nee, hulle sal lewe omdat hulle begin doen het wat Ek sê.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 33