Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 33:12-16 Die Boodskap (DB)

12. “Mens, sê vir hierdie klomp mense Ek sê: As mense goedgedoen het, maar dan ophou daarmee en slegte dinge begin doen, sal hulle goeie dade hulle nie red nie. As ’n mens weier om te doen wat Ek hom beveel om te doen, sal Ek hom straf. En as slegte mense ophou om slegte dinge te doen en omdraai en agter My aanloop, sal Ek hulle nie straf vir hulle slegte dade nie. Nee, hulle sal lewe omdat hulle begin doen het wat Ek sê.

13. Sê nou daar is mense wat reg doen en Ek het vir hulle gesê dat hulle sal lewe, maar hierdie mense begin dan slegte dinge doen. Hulle dink dalk dat Ek hulle steeds sal laat bly lewe. Hulle dink dat die goeie wat hulle gedoen het, hulle steeds sal red. Maar Ek sê vir jou: Ek sal niks onthou van al die goeie dade wat hulle gedoen het nie. Ek sien net die slegte raak wat hulle nou doen.

14. En sê nou maar daar is mense wat sleg is en aanhou om die slegte te doen. En dan waarsku Ek hulle dat hulle doodgemaak sal word omdat hulle so sleg is. Maar hierdie mense draai dan om en doen nie meer verkeerde dinge nie. Hulle doen wat Ek sê.

15. As iemand hulle iets geskuld het, het hulle dalk iets waardevols gevat totdat daardie mens wat by hulle geleen het, die skuld kan betaal. Nou gee hierdie mense daardie waardevolle besittings terug. En as hulle iets gesteel het, gaan gee hulle dit ook terug. Hierdie mense doen wat Ek beveel. Ek sal hierdie mense dan nie doodmaak nie. Hulle sal lewe.

16. Ek sal hulle nie die slegte dinge wat hulle vroeër gedoen het, verwyt nie. Ek sal hulle nie daarvoor straf nie. Ek sal nooit eens weer dink aan die slegte wat hulle gedoen het nie, want hulle het nou begin doen wat goed en reg is. Daarom sal hulle vir seker lewe.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 33