Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 32:6-23 Die Boodskap (DB)

6. Ek maak die aarde nat met jou bloed, tot by die berge. Jou bloed sal die valleie vol loop.

7. Die dag as Ek jou van die aarde afvee en jou doodmaak, sal Ek sorg dat die sterre donker word. Die wolke sal voor die son inskuif. En die maan sal donker wees.

8. Ja, die hele wêreld sal donker word, oor die hele Egipte. Selfs die helderste sterre bokant jou sal donker wees. Want Ek, die Here, die God van Esegiël, beveel dat dit moet gebeur.

9. “Ek sal die mense wat in jou oorbly na ver lande laat wegvat as gevangenes. Mense sal nie glo wat met jou gebeur het nie. Hulle sal wit geskrik wees as Ek jou vernietig.

10. Ja, Ek maak dat mense oor die hele wêreld bleek sal word soos hulle skrik. Die konings van die wêreld sal bewe, so bang is hulle dat hulle ook doodgemaak word as Ek Egipte verwoes.”

11. So sê die Here, die God van Esegiël: “Die koning van Babilonië sal kom en jou aanval.

12. Ek vernietig jou in daardie oorlog, want hulle is sterk en ervare soldate. Al die nasies is bang vir die Babiloniese weermag. Hulle sal jou op jou knieë bring, Egipte, want jy is ’n trotse volk. Sy soldate sal jou vernietig.

13. Dan vernietig Ek jou skape en beeste wat langs die riviere wei. Nooit sal enige dier of mens weer daar kom nie. Ek maak jou land ’n verlate plek, ’n woestyn.

14. Die riviere van Egipte sal dan kalm word. Hulle sal soos olie vloei, sonder dat iemand dit versteur,” sê die Here, Esegiël se God.

15. “Daardie dag verwoes Ek jou land. Niemand sal bly leef nie. Ek maak alles en almal dood. Dan sal jy weet en erken dat Ek die Here is.

16. Al die mense sal by jou begrafnis sing. Hulle sal sing omdat Egipte en al sy mense dood is,” sê die Here, die God van Esegiël.

17. Op die sewentiende Maart van daardie jaar het die Here verder met my oor Egipte gepraat.

18. “Mens, huil oor die mense van Egipte. Maar huil ook oor die mense van die ander nasies, want Ek laat hulle almal doodgaan. Hulle sal binnekort in die graf wees saam met al die ander mense wat alreeds dood is.

19. Sê vir hulle: Egipte, is jy dalk beter as die ander nasies? Nee! Daarom gooi Ek jou op die grond. Jy lê in die graf saam met die ander nasies wat Ek ook gestraf het.

20. Egipte gaan dood in die oorlog wat Ek stuur. Egipte het in die hof beland oor sy slegte dade, en Ek oordeel hom.

21. Die sterk leiers van die nasies wat Ek reeds doodgemaak het en wat nou in die graf lê, sê: ‘Welkom, Egipte! Julle het nou julle verdiende loon gekry. Julle lê nou tussen ons almal wat deur die Here vernietig is. Ons is almal in die oorlog doodgemaak.’

22. “Assirië lê daar. Rondom hom is die grafte van al sy mense. Hulle is in die oorlog doodgemaak.

23. Hulle grafte is diep in die grond gegrawe. Al hulle soldate lê ook daar. Vroeër het hulle baie mense doodgemaak. Almal was vir hulle bang. Kyk waar lê hulle nou! In die graf. Hulle vyande het hulle doodgemaak.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 32