Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 31:3-14 Die Boodskap (DB)

3. Jy het gedink jy is so sterk soos Assirië, die land daar in die ooste. “Kom Ek vertel jou wat het met Assirië gebeur. Assirië het soos ’n hoë sederboom op die hoogste berg in my land, die Libanonsberg, gegroei. Assirië was ’n groot en sterk nasie. Hy was soos ’n sterk boom wat sy skaduwee oor ’n groot deel van die aarde gegooi het. Hierdie boom het gedink sy top is tussen die wolke, so hoog was hy.

4. Waar hy gegroei het, was daar baie water. Daar was soveel water dat al die bome rondom hierdie groot boom ook genoeg water gehad het.

5. “Hierdie groot boom het uitgetoring bo al die ander bome. Die takke van die boom het dik gegroei omdat sy wortels in diep water gestaan het.

6. Die voëls het graag in die groot boom se takke nes gemaak. En die wilde diere het op die hitte van die dag in die skaduwee van die boom gaan lê. Daar is hulle kleintjies gebore.

7. Die boom was pragtig en sterk, want die wortels van die boom het tot by die water gegroei.

8. Hierdie boom het hoër gegroei as enige ander boom op aarde. Geen ander boom wat deur God geplant is, was so mooi soos hierdie boom nie.

9. Ek het hierdie boom so mooi laat groei. Die ander bome in die bos was jaloers op hierdie boom.”

10. Maar nou sê die Here, die God van Esegiël: “Hierdie mooi boom het toe trots geword. Hy het begin dink dat hy baie goed en mooi is. Hy het gedink hy is beter as die ander bome. Hy het gedink hy kan sy top in die wolke indruk.

11. Daarom gee Ek hierdie boom weg vir vyande wat met byle en sae sal kom. Hulle kap hierdie boom af en saag hom in stukke. Hierdie boom het slegte dinge gedoen. Daarom gooi Ek hom weg.

12. ’n Vreemde nasie se soldate kom hom afkap. Hulle het die boom wat afgekap is, op die grond laat lê. Die takke van die boom het op al die berge en in die valleie oor die hele land gelê. Almal wat in die skaduwee van die boom gebly het, het toe padgegee.

13. Die voëls sit nou op die boom wat omgeval het. Die wilde diere loop tussen die takke deur en wei.

14. Laat die ander bome dít hieruit leer: Laat geen ander nasie ooit so vol van hulleself word soos hierdie boom nie. Laat geen boom wat by die water staan, weer so hoog probeer groei nie. Alle nasies wat so hoog soos die wolke groei, sal dieselfde pad loop. Ek sal hulle platslaan. Al sulke nasies sal vernietig word.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 31