Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 3:4-18 Die Boodskap (DB)

4. Toe sê die Here vir my: “Mens, Ek wil hê jy moet nou na die mense van Israel toe gaan en vir hulle presies vertel wat Ek vir jou sê om vir hulle te vertel.

5. Ek stuur jou nie na ’n vreemde volk in ’n veraf land wat ’n taal praat wat jy nie kan verstaan nie. Ek stuur jou na jou eie mense, na Israel toe.

6. Nee, Ek stuur jou nie na ’n volk wie se taal vir jou moeilik en onverstaanbaar sal wees nie. Het Ek jou maar na so ’n volk toe gestuur! Hulle sou dalk na jou geluister het.

7. Maar die mense van Israel sal nie na jou wil luister nie. Hulle wil nie eens na My luister as Ek direk met hulle praat nie! Hoe sal hulle na jou wil luister? Dit is ’n klomp mense wie se kop net so hard is soos hulle hart!

8. Maar kyk nou mooi. Ek maak jou hart en jou kop net so hard soos die mense van Israel s’n.

9. Ek het jou so sterk soos ’n groot rots gemaak. Jy is nou so hard soos ’n diamant. Daarom moet jy nie bang wees vir die mense nie. Hulle sal niks aan jou kan doen nie. Moenie skrik as hulle vir jou kwaad word nie. Onthou, hulle is ’n klomp mense wat nog heeltyd teen My in opstand is.”

10. Toe het die Here verder met my gepraat: “Laat elke woord wat Ek vir jou sê, eers diep in jou eie hart insink. Luister baie goed as Ek met jou praat, en bêre elke woord diep in jou hart.

11. Gaan dan na jou mense toe wat saam met jou gevangenes in die vreemde land, in Babilonië, is. Gaan praat dan met jou mense. En gaan sê vir hulle alles presies soos Ek, die Here hulle God, vir jou gesê het om vir hulle te sê. Gaan sê dit vir hulle, of hulle nou luister of nie.”

12. Toe het die Gees van die Here my opgetel, en toe die teenwoordigheid van die Here van daardie plek opstyg, het dit geklink soos wanneer ’n groot aardbewing die grond en die bosse vernietig.

13. Die geluid wat ek gehoor het, was die vlerke van die lewende wesens wat teen mekaar geskuur het toe hulle opgestyg en begin vlieg het. Die wiele wat in mekaar gedraai het, het gemaak dat die geluid so groot was soos ’n aardbewing wat die aarde tref.

14. Die Gees van die Here het my toe opgetel en van daardie plek af weggevat waar ek die Here gesien het. Ek het baie benoud en bang gevoel. Maar die Here se hand was swaar op my.

15. So het ek teruggekom by my eie mense, die gevangenes wat daar in die dorp Tel-Abib gebly het, naby die Kebarrivier. Ek was so oorweldig deur wat ek gesien en gehoor het dat ek vir sewe dae niks anders kon doen nie as om net tussen hulle te sit.

16. Na ’n week het die Here weer met my gepraat:

17. “Mens, Ek het jou aangestel om wag te hou oor Israel. Jy is soos ’n skaapwagter wat vir die skape verantwoordelik is. Jou werk is om mooi te luister na wat Ek vir jou sê sodat jy hierdie volk kan gaan waarsku. Jy praat met hulle namens My.

18. Ek waarsku die slegte mens wat niks met My en my voorskrifte te doen wil hê nie, en sê: ‘Jy verdien die doodstraf oor wat jy doen.’ As jy nie hierdie mens waarsku teen die gevolge van sy slegte dade nie en hy gaan dood omdat Ek hom ter dood veroordeel, sal sy dood die gevolg wees van sy slegte dade. Maar Ek sal jou verantwoordelik hou omdat hy dood is. Jy moes hom gewaarsku het.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 3