Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 22:9-21 Die Boodskap (DB)

9. Mense beledig mekaar en beskuldig mekaar vals. En hulle vals beskuldigings maak dat onskuldige mense tot die dood veroordeel word in die hof. Die mense wat in jou woon, Jerusalem, bring offers vir hulle afgode en hou aan om slegte dinge te doen, sonder ophou.

10. Daar is mans wat by hulle pa se vroue slaap, getroude mans wat by ander vroue slaap terwyl Ek gesê het dit mag nie gebeur nie.

11. In jou, Jerusalem, bly daar mans wat by hulle buurman se vrou slaap. Of hulle slaap by hulle skoondogters. Of hulle verkrag hulle eie susters.

12. Daar is mense in jou wat vir geld moord pleeg. Hulle leen geld uit teen buitensporig hoë rentekoerse. Hulle steel en loop ander mense in. Dis ’n klomp mense wat nooit eers dink aan wat Ek vir die mens gesê het om te doen nie,” sê die Here, die God van Esegiël.

13. “Ek is so verbaas oor wat julle doen dat Ek my hande saamslaan. Julle lieg en bedrieg. Julle maak links en regs dood.

14. Sê ’n bietjie vir My: Sal jy ook so vol selfvertroue wees die dag as Ek jou gaan oordeel? Ek, die Here, het gepraat. En Ek sal doen wat Ek sê.

15. “Ek gaan jou onder die nasies verstrooi. Jy sal in vreemde lande as gevangene woon. En daar sal Ek jou skoonmaak van al die slegte dinge wat jy gedoen het.

16. Daardie dag, as die vreemde nasies so na jou kyk en oor jou lag en spot, sal jy weet en erken dat Ek die Here is.”

17. Toe het die Here weer met my gepraat:

18. “Mens, Israel het vir My soos die skuim geword wat agterbly as jy silwer smelt. Jy gooi die silwer af en verkoop dit, maar die skuim het geen nut nie. Jy gooi dit weg, want niemand kan iets daarmee doen nie. My volk is ’n nuttelose, waardelose mengsel van koper, tin, yster en lood.”

19. So sê die Here, die God van Esegiël, oor julle: “Julle is ’n waardelose en nuttelose klomp skuim. Daarom gaan Ek julle almal in Jerusalem in ’n smeltery bymekaargooi.

20. Soos jy silwer, koper, yster, lood en tin saamgooi en die vuur aanblaas en warm maak om die metale te smelt, so gooi Ek julle bymekaar. Want Ek is kwaad oor al julle slegte dade. Ek smelt julle.

21. Ek gooi julle bymekaar en my woede is die vuur waarmee Ek julle vernietig.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 22