Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 20:9-23 Die Boodskap (DB)

9. Maar Ek het hulle nie gestraf nie. Ek het Myself aan hulle verbind, en Ek wou my groot Naam beskerm. Ek was bang die ander nasies spot met Israel as Ek hulle nie uit Egipte uitlei nie omdat Ek belowe het dat Ek dit sou doen.”

10. “Daarom het Ek my volk uit Egipte, die land waar hulle gevangenes was, uitgelei. Ek het hulle die woestyn in geneem.

11. Daar het Ek vir hulle gesê wat hulle moet doen as hulle wou bly lewe. Ja, elke mens wat doen wat Ek sê, sal aanhou lewe.

12. Ek het toe ook vir hulle die sewende dag as ’n dag gegee waarop ’n mens moet rus. Die sewende dag was die dag waarop Ek hulle daaraan herinner het dat Ek, die Here, hulle eenkant gesit het om aan My te behoort en soos Ek te wees. Hulle was my spesiale volk.

13. “Maar dit was nie lank nie, toe kom die mense van Israel in opstand teen My. Dit het gebeur toe hulle nog in die woestyn was. Hulle wou nie doen wat Ek gesê het nie, alhoewel hulle geweet het dat dit die enigste manier is om te bly lewe. Hulle het ook nie op die sewende dag van die week gerus soos Ek beveel het nie. Daarom het Ek gedreig om hulle te straf omdat Ek baie kwaad was. Ek het planne begin maak om hulle van die aardbol af te vee,

14. maar ook daar het Ek my woede ingehou om my Naam te beskerm. Anders sou die ander nasies lag en sê: ‘Die Here het sy volk uit Egipte gelei, maar Hy was nie sterk genoeg om vir hulle in die woestyn te sorg nie.’

15. “Maar daar in die woestyn het Ek vir daardie klomp mense belowe dat Ek hulle nie na die land toe sal vat wat Ek belowe het om vir hulle te gee nie. Daardie land is die mooiste land wat daar op die aarde is. Dit loop oor van goeie dinge.

16. Ek het vir hulle gesê dat hulle nie die goeie land sal sien nie omdat hulle hulle nie gesteur het aan wat Ek vir hulle sê nie. Hulle het My geïgnoreer. En hulle het nie op die sewende dag van die week gerus soos Ek hulle beveel het nie. Hulle het maar weer voor afgode gaan neerbuig en hulle aanbid.

17. Nogtans het Ek hulle weer jammer gekry en hulle nie daar in die woestyn vernietig nie.

18. “Toe het Ek hulle kinders gewaarsku en gesê hulle moet oppas dat hulle nie dieselfde pad as hulle ouers loop nie. Ek het gesê hulle moet ook nie hulleself besoedel deur afgode te aanbid nie.

19. Ek het vir hulle gesê: Ek is die Here, julle God. Doen wat Ek vir julle sê. Luister na wat Ek julle beveel.

20. Rus op die sewende dag, want die sewende dag herinner jou daaraan dat Ek die Here jou God is.

21. “Maar hierdie mense het toe ook teen My in opstand gekom. Hulle wou nie doen wat Ek beveel het nie, al het hulle geweet dat dit die enigste manier is om aan die lewe te bly. Hulle het geweier om op die sewende dag te rus. Toe het Ek hulle gedreig dat Ek hulle gaan straf omdat Ek kwaad was vir hulle. Hulle was nog in die woestyn toe dit gebeur het.

22. Maar nogtans het Ek dit nie gedoen nie. Ek het hulle nie vernietig nie om my Naam te beskerm voor die ander nasies omdat Ek belowe het om Israel uit Egipte te lei.

23. Maar Ek het wel ’n belofte gemaak terwyl my volk nog daar in die woestyn was. Ek het hulle belowe dat Ek hulle nog eendag onder die nasies gaan verstrooi

Lees volledige hoofstuk Esegiël 20