Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 14:14-23 Die Boodskap (DB)

14. Selfs as die vroomste mense op aarde, Noag en Daniël en Job, daar was, sou Ek net vir hulle gered het van die dood. Al die ander sou nog steeds vir hulle slegte dade gesterf het,” sê die Here, die God van Esegiël.

15. “Of sê nou maar Ek stuur gevaarlike wilde diere om daardie land binne te val en die land te verwoes en die mense uit te roei.

16. Selfs as hierdie drie vroom mans in daardie land gebly het, verseker Ek jou dat dit die mense van daardie land niks sou help nie. Die mense sou nog steeds doodgemaak word. Die drie mans sou gered word omdat hulle reg voor die Here leef, maar die land en sy mense sou nog steeds uitgeroei word.

17. “Of sê nou Ek het ’n groot weermag teen daardie land laat optrek, en Ek het vir die vreemde leër opdrag gegee om die land te verwoes en die inwoners van die land uit te roei.

18. Selfs as daardie drie mans in daardie land gebly het,” sê die Here, die God van Esegiël, “sou hulle nie die mense gered het nie. Net hulle alleen sou gespaar word.

19. “Of sê nou Ek stuur dodelike siektes teen daardie land omdat Ek woedend is oor die slegte dade wat hulle doen, en baie mense en diere gaan dood deur die siektes wat oral in die land uitbreek.

20. Selfs as Noag, Daniël en Job in daardie land tussen die mense gebly het, verseker Ek jou sou hulle nie die mense gered het nie. Net daardie drie mans sal gered word omdat hulle die regte dade gedoen het.”

21. Vandag sê die Here, die God van Esegiël vir hierdie volk: “Ek stuur al vier hierdie rampe teen Jerusalem en teen my volk. Hulle sal sien hoe Ek hulle oor hulle slegte dade straf met oorloë en hongersnood, en met gevaarlike wilde diere en dodelike siektes. Ek vernietig hierdie land se mense en diere sonder om een oor te slaan.

22. Daar sal net ’n handjie vol mense wees wat die rampe gaan oorleef. En hulle sal weggevoer word om saam met julle hier as gevangenes in Babilonië, ’n ver en vreemde land, te kom woon. Dan sal julle met julle eie oë sien watter slegte dade daardie mense gedoen het. En dan sal julle verstaan hoekom Ek Jerusalem tot op die grond laat afbreek en sy inwoners dood laat maak het.

23. Julle sal die paar mense ontmoet wat die rampe in Jerusalem oorleef. En julle sal sien watter slegte dade hulle doen. En dan sal julle saamstem dat Ek Israel nie sonder rede swaar gestraf het nie. Sy het verdien dat Ek haar so straf.” So sê die Here, Esegiël se God.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 14