Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 10:12-22 Die Boodskap (DB)

12. Die wesens en ook die wiele was vol oë. Die wesens het oë reg oor hulle lywe gehad, en ook oor hulle hande en rûe en vlerke.

13. Ek het gehoor iemand verwys na die wiele as die “warrelende wiele”.

14. Elkeen van die vier boodskappers het vier gesigte: die eerste was dié van ’n bees, die tweede was ’n menslike gesig. Die derde gesig was dié van ’n leeu en die vierde dié van ’n arend.

15. Toe het die wesens opgestyg. Dit was presies dieselfde beeld wat ek ook langs die Kebarrivier gesien het.

16. Terwyl die wesens beweeg, het die wiele saam met hulle beweeg. En wanneer die wesens in die lug beweeg het, het die wiele langs hulle gebly en saam met hulle beweeg soos hulle gevlieg het.

17. En as die wesens tot stilstand kom, het die wiele ook stil gaan staan. Die Gees van die wesens was in die wiele.

18. Die Here het toe self na die deur van sy huis toe gegaan, en van daar af het Hy na die sitplek bokant die boodskappers gegaan.

19. Terwyl ek nog kyk, het die boodskappers met hulle wiele na die oostelike hek van die huis van die Here toe gevlieg. Die Here het bokant die boodskappers gesit.

20. Dit was dieselfde boodskappers wat ek onder die God van Israel se troon gesien het toe ek die Here vroeër by die Kebarrivier gesien het. Ek het geweet hulle is boodskappers,

21. want elkeen van hulle het vier gesigte gehad en vier vlerke, en wat soos menslike hande gelyk het, was onder hulle vlerke versteek.

22. Hierdie boodskappers se gesigte het ook nes die gesigte gelyk van die wesens wat ek langs die Kebarrivier gesien het. En hulle het ook so reguit vorentoe beweeg, nes die wesens by die Kebarrivier.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 10