Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 9:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het weer vir Moses gesê: “Gaan nog ’n keer na die farao toe en sê vir hom: ‘Die Here, die God van die Hebreërs, eis van jou: jy moet my volk laat gaan om My te aanbid.

2. As jy weier om hulle te laat gaan en aanhou om hulle terug te hou,

3. gaan die Here sy krag gebruik. Hy sal ’n dodelike siekte laat uitbreek onder al jou vee wat in die veld is. Al jou perde en donkies, jou kamele, jou beeste en jou kleinvee sal dodelik siek word.

4. Die Here sal ook anders maak met die vee van die Israeliete as met die vee van die Egiptenaars. Nie een van hulle diere sal vrek van die siekte nie.

5. Die Here het hierdie keer self oor die tyd besluit wanneer dit sal gebeur. Dit sal môre gebeur.’”

6. Die Here het dan ook die volgende dag laat gebeur wat Hy gesê het. Al die vee van die Egiptenaars het siek geword en begin vrek. Onder die Israeliete se vee is daar egter nie ’n enkele een dood nie.

7. Die farao het ook mense gestuur om te kyk of dit regtig so is dat daar niks by die Israeliete gevrek het nie. Alhoewel hulle vir hom kom sê het dat dit werklik so is, het hy weer viervoet vasgesteek en bly weier om die volk te laat gaan.

8. Die Here het daarop vir Moses en Aäron beveel: “Gaan krap ’n paar hande vol roet uit ’n oond. Moses moet dit voor die farao in die lug uitstrooi.

9. Dit sal ’n fyn poeier word wat oor die hele Egipte versprei. Dit sal oor die hele land rou sere op mense en diere laat kom.”

10. Hulle het toe roet gevat. Terwyl die farao kyk wat hy doen, het Moses die roet gevat en in die lug gegooi. Daar het toe swere op die mense en die diere se vel gekom.

11. Die Egiptiese towenaars was self so vol sere dat hulle nie eens kon kom kyk of hulle dieselfde as Moses kon doen nie. Die hele Egipte was die ene rowe en sere.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 9