Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 7:11-19 Die Boodskap (DB)

11. Die farao laat toe sy towenaars kom. Hulle doen toe presies dieselfde ding.

12. Soos hulle elkeen sy kierie op die grond neergooi, verander dit in ’n slang. Aäron se kierie het egter hulle slange ingesluk.

13. Die farao het nogtans hardkoppig gebly, soos die Here gesê het dit sou gebeur. Hy het geweier om na Moses-hulle te luister.

14. Die Here sê toe vir Moses: “Die farao is hardekwas. Hy bly weier om die volk weg te stuur.

15. Jy moet môreoggend vroeg vir hom langs die Nyl gaan wag. Sorg dat jy die kierie wat in ’n slang verander het by jou het.

16. Jy moet dan vir hom sê: ‘Die Here, die God van die Hebreërs, het my na jou toe gestuur. Hy sê jy moet sy volk toelaat om na die woestyn toe te gaan dat hulle daar tot Hom kan gaan bid. Tot nou toe het jy geweier om na hierdie opdrag te luister.

17. Die Here gaan jou nou dwing om te erken dat Hy die Here is. Ek gaan met hierdie kierie in my hand op die rivier se water slaan. Die water gaan dan in bloed verander.

18. Die visse in die rivier sal almal vrek. Dit sal so stink dat niemand in Egipte water uit die rivier sal kan drink nie.’”

19. Die Here het vir Moses gesê hy moet vir Aäron sê om sy kierie te vat en dit uit te steek na al die plekke waar daar water in Egipte is. Hy moet dit uitsteek na die spruite, na die riviere, na die vleilande en na die damme. Al die water in die land sal dan in bloed verander. Selfs ook die water wat in emmers geskep is en in bakke is, sal in bloed verander.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 7