Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 32:20-33 Die Boodskap (DB)

20. Hy het die beeld van die kalf in die vuur gegooi en dit toe so fyn soos stof gemaal. Hy het die poeier in die drinkwater gegooi en die Israeliete gedwing om dit op te drink.

21. Moses vra toe vir Aäron: “Watter kwaad het hierdie volk jou gedoen dat jy hulle moes verlei om so ’n verskriklike sonde te doen?”

22. Aäron antwoord toe: “Meneer, jy moenie kwaad word nie. Jy weet so goed soos ek dat hierdie volk altyd reg is om kwaad te doen.

23. Hulle het my kom vra: ‘Maak tog vir ons ’n god wat ons verder kan lei. Ons weet nie waar Moses is wat ons uit Egipte gelei het nie.’

24. Ek het toe vir hulle gesê dat almal wat goue ringe aanhet, dit moet afhaal en vir my kom gee. Ek het dit in die vuur gegooi en toe ek sien, toe spring hierdie goue kalf sommer daar uit die vuur uit.”

25. Moses sien toe dat die volk handuit geruk het tot groot vermaak van hulle teëstanders. Aäron het hulle nie in toom gehou nie.

26. Moses het by die ingang van die laer gaan staan en uitgeroep: “Dié wat aan die Here se kant is, moet hier by my kom staan!” Die hele familie van Levi het toe om hom gaan staan.

27. Hy het vir hulle gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: ‘Vat jou swaard en gaan maak deur die hele kamp elkeen voor die voet dood, of dit nou jou broer, vriend of familielid is, maak nie saak nie.’”

28. Die Leviete het gedoen wat Moses gesê het. Daardie dag is daar ongeveer 3 000 mans dood.

29. Moses het vir die Leviete gesê: “Julle het vandag vir die Here gewerk. Julle was bereid om te doen wat Hy sê. Julle het na Hom geluister, selfs al het dit beteken dat julle seuns en broers moes doodmaak. Die Here die Almagtige sal vir julle sorg.”

30. Die volgende dag het Moses vir die volk wat oor was, gesê: “Julle het ’n vreeslike sonde gedoen. Ek gaan nou dadelik weer opklim na die Here toe. Miskien kry ek dit reg dat Hy julle vergewe vir wat julle aangevang het.”

31. Moses het teruggegaan en tot die Here gebid: “Ag tog, Here, hierdie volk het ’n verskriklike fout gemaak. Hulle het vir hulleself ’n god van goud gaan staan en maak.

32. As U bereid is, vergewe asseblief tog die fout wat hulle gemaak het. Anders moet U maar my naam uitvee uit die boek waarin U die name opskryf.”

33. Die Here antwoord hom toe: “Ek sal net dié wat verkeerd gedoen het se name uit my boek uitvee.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 32