Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 21:20-36 Die Boodskap (DB)

20. As iemand sy manlike of vroulike werker so met ’n stok slaan dat die slaaf doodgaan, moet daardie persoon gestraf word.

21. As die slaaf dit oorleef en nie binne ’n dag of twee doodgaan nie, is dit in orde. Die man besit tog immers die slaaf.”

22. “Twee mans kan miskien met mekaar baklei. Terwyl hulle veg, kan een van hulle teen ’n vrou stamp wat swanger is sodat sy daardeur haar baba verloor. Die man wat haar die baba laat verloor het, moet dan skadevergoeding betaal. Haar man sal ’n eis instel. Daar moet dan onderhandel word oor die bedrag wat betaal moet word.

23. As hy skade veroorsaak het wat vir altyd sal bly, moet hy daarvoor baie geld betaal. As sy doodgaan, sal hy met sy eie lewe moet betaal.

24. ’n Oog se skade moet met ’n oog goed gemaak word. As daar ’n tand uit is, moet hy een van sy tande laat uithaal. ’n Hand se skade moet met ’n hand betaal word, ’n voet met ’n voet,

25. ’n brandplek met ’n brandplek, ’n wond met ’n wond en ’n kneusplek met ’n kneusplek.

26. As ’n eienaar sy slaaf of slavin op die oog slaan en die slaaf kan nie meer met daardie oog sien nie, moet die eienaar die slaaf laat vry gaan om die skade van die oog goed te maak.

27. Ook net so wanneer hy sy manlike of vroulike slaaf se tand uitslaan, moet hy daardie persoon vrylaat om so vir die tand te vergoed.”

28. “As ’n bul toevallig ’n man of ’n vrou met sy horings doodstoot, moet die bul dadelik met klippe doodgegooi word. Sy vleis mag egter nie geëet word nie. Die eienaar van die bul hoef ook niks verder te betaal nie.

29. As daar egter al vantevore vir die eienaar gesê is dat sy bul sulke neigings het en hy niks daaraan gedoen het nie, moet hy saam met die bul doodgegooi word wanneer die bul ’n man of ’n vrou se dood veroorsaak.

30. As dit miskien kan gebeur dat die familie bereid is om geld vir hulle familielid se dood te vat, kan hy bly lewe, maar hy moet die volle bedrag aan hulle betaal.

31. Selfs al het die bul ’n seun of ’n dogter doodgestoot, bly dit nog presies dieselfde.

32. Indien die bul ’n manlike of vroulike slaaf doodgemaak het, moet die eienaar van die slaaf 40 gram silwer kry. Die bul moet in elk geval nog met klippe doodgegooi word.

33. “As iemand ’n put vir water grawe en hy sit nie ’n deksel daarop nie, of hy los die put oop en ’n bees of ’n donkie val daarin,

34. moet die man wat die put gegrawe het vir die eienaar van die dier skadevergoeding betaal. Nadat hy hom betaal het, mag hy egter die karkas van die dier hou.”

35. “As iemand se bul iemand anders se bul doodmaak, moet die lewendige bul verkoop word. Die geld moet dan tussen die twee eienaars verdeel word. Hulle moet ook die karkas van die dooie bul tussen mekaar verdeel.

36. As almal egter geweet het dat dit ’n bakleierige bul was en sy eienaar het niks daaraan gedoen nie, moet hy die eienaar van die dooie bul vir die hele bul vergoed. Hy mag die dooie bul vir homself vat.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 21