Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 2:11-19 Die Boodskap (DB)

11. Moses was al ’n groot man toe hy op ’n keer gaan kyk het hoe die ander Israeliete gedwing word om slawewerk te doen. Terwyl hy daar is, sien hy hoe een van die Egiptenaars ’n Hebreër slaan.

12. Hy het hiernatoe en daarnatoe gekyk en toe hy niemand sien nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan. Hy het hom onder die sand begrawe.

13. Toe hy weer ’n keer daar kom, kry hy twee Hebreërs wat besig is om met mekaar te baklei. Hy vra toe vir die een wat verkeerd was: “Hoekom slaan jy aan iemand anders uit jou volk?”

14. Die man kap toe terug: “Wie het jou altemit aangestel om baas te speel en oor ons te besluit? Gaan jy my ook doodmaak soos jy die Egiptenaar doodgemaak het?” Moses het hom boeglam geskrik en vir homself gesê: “Die ding het op die lappe gekom.”

15. Toe die farao hoor wat gebeur het, het hy inderdaad ook na Moses laat soek om hom dood te maak. Moses het toe uit Egipte gevlug om van die farao af weg te kom.Hy het in ’n plek met die naam Midian aangekom. Hy het by ’n waterput gaan sit.

16. Daar in Midian was ’n man wat vir die Here gewerk het. Hy het sewe dogters gehad. Hulle het daar aangekom om water uit die put op te trek om die bakke waaruit hulle pa se kleinvee drink, vol water te maak sodat hulle kan suip.

17. Toe daar ander mans met hulle vee aankom, wou hulle die meisies wegjaag. Moses het gekeer en hulle gehelp dat hulle kleinvee eers klaar kon drink.

18. Toe die meisies by die huis by hulle pa, Reüel, terugkom, vra hy vir hulle: “Hoe is julle dan vandag so vroeg terug?”

19. Hulle antwoord: “Daar was ’n man uit Egipte by die put. Hy het ons gehelp en gekeer dat die mans ons wegdruk. Hy het selfs ook vir ons water uit die put opgetrek en ons kleinvee laat drink.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 2