Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 19:5-6-14 Die Boodskap (DB)

5-6. As julle regtig aan My gehoorsaam is en by my ooreenkoms met julle bly, sal julle uit al die volke van die hele aarde my eie persoonlike volk wees. Julle sal ’n volk wees van mense wat vir My offers bring en My dien. Julle sal ’n volk wees wat alles vir My doen.’ Dit is my boodskap wat jy vir die Israeliete moet gaan gee.”

7. Moses het van die berg afgeklim en die leiers van die volk bymekaargeroep. Hy het die Here se boodskap vir hulle gegee.

8. Die hele volk het toe gesê asof hulle almal net met een mond praat: “Ons sal alles doen wat die Here van ons vra.” Moses het teruggegaan en vir die Here gaan sê wat hulle reaksie was.

9. Nadat Moses vir die Here gesê het hoe die volk geantwoord het, het die Here vir hom gesê: “Ek gaan in ’n dik onweerswolk na jou toe kom sodat die volk kan hoor hoe dit klink wanneer Ek met jou praat. Hulle sal jou dan vertrou omdat hulle weet dat Ek met jou praat.

10. Gaan nou terug na die volk toe,” het die Here verder vir hom gesê, “en laat hulle hulle gereedmaak en hulle klere was

11. sodat hulle oormôre reg sal wees om die Here te ontmoet. Hy sal op daardie dag afkom uit die hemel na die Sinaiberg toe.

12. Jy moet ’n tou om die berg span om die volk van die berg af weg te hou. Jy moet vir hulle sê dat jy enigeen wat op die berg klim, sal doodmaak. Hulle mag selfs nie eens tot onder by die voet van die berg kom nie.

13. Enigeen wat by die berg kom, of dit nou ’n dier of ’n mens is, kan nie langer bly lewe nie. Die oortreder moenie eens in hegtenis geneem word nie, maar sommer net daar met klippe doodgegooi word of met pyl en boog doodgeskiet word. Eers wanneer daar ’n trompet blaas, mag hulle uit die kamp uit na die berg toe kom.”

14. Moses het toe van die berg afgeklim. Hy het teruggegaan na die volk toe en hulle aangesê om hulle gereed te kry om die Here te ontmoet. Hulle het hulleself begin regkry en hulle klere gewas.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 19