Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 12:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Terwyl hulle nog in Egipte was, het die Here vir Moses en Aäron gesê:

2. “Hierdie maand is van nou af die belangrikste maand in die hele jaar. Dit moet die eerste maand wees van elke jaar. Die nuwe jaar moet met hierdie maand begin.

3. Dit moet die reël wees in Israel wat nooit weer verander word nie. Elke gesin moet sorg dat hulle teen die tiende van hierdie maand alreeds ’n lam in die hande gekry het.

4. As daar te min mense in een gesin is om ’n lam te kan opeet, moet hulle en hulle bure saam maak. Hulle moet kyk hoeveel mense hulle dan is en of hulle saam genoeg is om een lam op te eet.

5. Dit moet ’n jaaroud rammetjie wees wat uit die skape of die bokke kom. Daar mag niks fout wees met die dier nie.

6. Hulle moet die lam aan die lewe hou tot op die veertiende dag van die maand.“Teen die aand van die veertiende dag moet almal in Israel hulle lamme slag.

7. Hulle moet dan van die bloed van die lam vat en dit aan die kante en boaan die deurkosyn van die huis smeer waar hulle die lam gaan eet.

8. Hulle moet die vleis oor die vuur braai. Al die vleis moet nog in daardie selfde nag opgeëet word. Hulle moet dit saam met brood eet waarin daar nie suurdeeg is nie. Daarby moet hulle sous gebruik wat van bitter kruie gemaak is.

9. Hulle mag nie die vleis rou eet nie. Hulle moet dit ook nie kook nie. Die lam moet net so heel en in een stuk op die vuur gebraai word met kop, pootjies, binnegoed en al.

10. Daar mag niks van die vleis oorbly nie. As daar die volgende oggend nog enigiets oor is, moet dit in die vuur verbrand word.”

11. “Julle moet al hierdie goed eet soos mense wat baie haastig is om weg te kom. Die gordels om julle heupe moet vasgetrek wees. Julle moet sandale aan julle voete hê. Julle kieries moet in julle hande wees sodat julle reg kan wees om te begin stap. En julle moet vinnig eet. Dit word die paasfees genoem. Julle moet dit elke jaar hou om die Here se Naam groot te maak.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 12