Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 33:6-13 Die Boodskap (DB)

6. Moses het toe met die stam van Ruben gepraat: “Laat die stam van Ruben lewe en nie uitsterf nie, al is dit ’n klein stam.”

7. Moses het toe vir die stam van Juda gesê: “Here, hoor as Juda tot U roep in hulle nood en bring hulle terug sodat hulle deel van u volk sal wees. Maak hulle sterk sodat hulle hulle vyande sal oorwin.”

8. Moses het toe oor die stam van Levi gesê: “Here, Levi se mense werk in u huis. U het vir hulle die werk gegee om U elke dag te dien. Hulle is elke dag op hulle pos. U het by Massa gekyk of hulle getrou sal wees en U het by die Meribawaters ’n hofsaak teen hulle gevoer.

9. Maar hulle het U nie in die steek gelaat nie. Hulle het alles gedoen wat U hulle beveel het. Hulle het u ooreenkoms met u volk veilig beskerm. Hulle was meer lojaal aan U as aan hulle ouers en hulle eie kinders.

10. Laat hulle nou vir Israel leer wat die Here verwag. Laat hulle Israel herinner aan wat die Here wil hê hulle moet doen. Hulle moet elke dag wierook voor die Here brand om te wys dat hulle Hom respekteer. Net hulle mag offers vir die Here bring.

11. Maak die kinders van Levi voorspoedig, Here. Aanvaar alles wat hulle doen. Vernietig hulle vyande. Slaan die mense wat hulle haat plat sodat hulle nie weer op hulle voete kan kom nie.”

12. Oor die stam van Benjamin het Moses gesê: “Die Here het die mense van Benjamin lief. En as die Here jou liefhet, is jy altyd veilig. Hy hou sy hand oor hierdie mense en Hy beskerm hulle sodat moeilikheid hulle nie kan onderkry nie. Hulle bly by Hom.”

13. Moses het toe oor die stamme van Josef gepraat: “Mag die Here die land waar hierdie stamme bly, voorspoedig maak. Mag Hy op die regte tyd vir hulle reën stuur. Mag daar volop dou op hulle grond wees. En mag daar genoeg onderaardse water wees.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 33