Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 33:12-25 Die Boodskap (DB)

12. Oor die stam van Benjamin het Moses gesê: “Die Here het die mense van Benjamin lief. En as die Here jou liefhet, is jy altyd veilig. Hy hou sy hand oor hierdie mense en Hy beskerm hulle sodat moeilikheid hulle nie kan onderkry nie. Hulle bly by Hom.”

13. Moses het toe oor die stamme van Josef gepraat: “Mag die Here die land waar hierdie stamme bly, voorspoedig maak. Mag Hy op die regte tyd vir hulle reën stuur. Mag daar volop dou op hulle grond wees. En mag daar genoeg onderaardse water wees.

14. Mag Hy hulle ryk maak met goeie oeste. Mag Josef elke maand genoeg kry om te eet.

15. Mag hy rekordoeste teen die berge se hange hê, en mag die heuwels se skatte hom ryk maak.

16. Mag die Here vir hom die beste gee wat uit die aarde kom. Mag die Here hom voorspoedig maak, die Here wat Hom daar in die doringbos aan Moses bekendgemaak het. Mag dit alles met Josef gebeur. Mag hy die regeerder oor Israel, sy broers, wees.

17. Josef is so sterk soos ’n jong bul. Hy loop trots rond, want hy is so sterk soos ’n buffel. Hy sal vreemde nasies wegjaag, en hulle sal vlug tot aan die eindes van die aarde. Dit is my wens vir die twee stamme van Josef, vir Efraim en Manasse.”

18. Oor die stamme van Sebulon en Issaskar het Moses gesê: “Mag die mense van Sebulon voorspoedig wees as hulle buite die grense van hulle land rondtrek. En mag die mense van Issaskar voorspoedig wees as hulle by die huis is.

19. Hierdie twee stamme nooi die mense om saam met hulle na die berg toe te gaan sodat hulle daar offers vir die Here kan bring. Die Here het bepaal watter offers ’n mens moet bring. Hulle bly langs die see, en die see maak hulle ryk, want daar is baie kosbare skatte in die see.”

20. Moses het oor die stam van Gad gesê: “Mag die Here die een wat Gad se grense verder skuif, voorspoedig maak! Gad sit reg soos ’n leeu net voor hy spring. Sy prooi is die sterk mense, die leiers van ander nasies.

21. Die mense van Gad het die beste deel van die land vir hulleself uitgekies. Een van die beste dele van die land is vir hom gegee. Toe die leiers van die volk bymekaargekom het, was dit Gad wat gedoen het wat die Here van hom vra. Hy het reg gedoen.”

22. Oor die stam van Dan het Moses die volgende kwytgeraak: “Dan is die welpie van ’n leeu. Hou hom dop. Hy gaan skielik uit sy woonplek, uit Basan uit sy prooi bespring.”

23. Oor Naftali se stam het Moses gesê: “Naftali, jy geniet die allerbeste. Die Here het jou ryk gemaak. Jy is baie voorspoedig. Mag jou grense nog verder verskuif, mag jou land groter word na die westekant en die suidekant toe.”

24. Moses het oor die stam van Aser gesê: “Mag Aser voorspoediger wees as sy broers, die ander seuns van Jakob. Hy is die gunstelingseun van sy pa. Mag dit met hom goed gaan. Mag hy baie ryk word uit die olie wat in sy land voorkom.

25. En mag hy veilig in sy stede bly sodat sy vyande niks aan hom kan doen nie. Mag hy baie oud word en baie lank in sy land woon.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 33