Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 33:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Toe het Moses die Israeliete voorspoed toegebid. Net voor sy dood het hy vir hulle gesê:

2. “Die Here het uit die Sinaiwoestyn gekom en Hom aan ons bekendgemaak. Van die Seïrberge af het ons Hom sien nader kom. Toe Hy by Paranberg verbygaan, het ons die vuur in sy regterhand sien brand. Hy het gekom met tien duisende van die mense wat Hom dien.

3. “U het gekom, Here, omdat U u volk liefhet. U hou die mense in u eie hand vas wat U vir Uself eenkant gesit het om U te dien. U beskerm hulle. Hierdie mense loop oral agter U aan. Hulle doen wat U vir hulle sê.

4. Wat U ons beveel, is die kosbaarste besitting wat u volk op aarde het.

5. Die Here het ons Regeerder geword. Israel is vir Hom baie spesiaal. Al die leiers van die volk het toe bymekaargekom, saam met al die stamme van Israel. En hulle het die Here tot hulle koning verklaar.”

6. Moses het toe met die stam van Ruben gepraat: “Laat die stam van Ruben lewe en nie uitsterf nie, al is dit ’n klein stam.”

7. Moses het toe vir die stam van Juda gesê: “Here, hoor as Juda tot U roep in hulle nood en bring hulle terug sodat hulle deel van u volk sal wees. Maak hulle sterk sodat hulle hulle vyande sal oorwin.”

8. Moses het toe oor die stam van Levi gesê: “Here, Levi se mense werk in u huis. U het vir hulle die werk gegee om U elke dag te dien. Hulle is elke dag op hulle pos. U het by Massa gekyk of hulle getrou sal wees en U het by die Meribawaters ’n hofsaak teen hulle gevoer.

9. Maar hulle het U nie in die steek gelaat nie. Hulle het alles gedoen wat U hulle beveel het. Hulle het u ooreenkoms met u volk veilig beskerm. Hulle was meer lojaal aan U as aan hulle ouers en hulle eie kinders.

10. Laat hulle nou vir Israel leer wat die Here verwag. Laat hulle Israel herinner aan wat die Here wil hê hulle moet doen. Hulle moet elke dag wierook voor die Here brand om te wys dat hulle Hom respekteer. Net hulle mag offers vir die Here bring.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 33