Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 32:24-36 Die Boodskap (DB)

24. Hierdie mense sal niks meer hê om te eet nie. Hulle sal dodelik siek word. Ek stuur roofdiere om hulle aan te val. Giftige slange sal hulle pik en hulle doodmaak.

25. Buitekant op straat sal mense doodgaan in die oorlog en binne-in die huis sal mense van angs en benoudheid rondhardloop. Almal sal ly: die jongmans en die jongmeisies, die babas en die ou mense. Die laaste een sal doodgemaak word.

26. “Ek wou hulle oor die hele aarde verstrooi sodat niemand weer aan hulle sal dink nie. Niemand sal eens onthou dat daar so ’n volk soos Israel was nie.

27. Maar toe dink Ek daaraan: dalk sal die vyande dan met My spot. Hulle sal nie verstaan wat Ek doen nie. Hulle sal dink dis hulle wat Israel oorwin het. Dan sal hulle sê: ‘Ons het gewen! Dis omdat ons sterk is dat ons die Here se volk vernietig het. Dis nie die Here wat dit gedoen het nie. Dis eintlik ons wat so goed is!’

28. “Israel is ’n nasie wat te dom is vir woorde. Hulle verstaan net mooi niks nie. Hulle kan nie insien wat met hulle gebeur nie.

29. O, dat julle tog net slim kon word! Dan sou julle verstaan het wat besig is om met julle te gebeur! Dan sou julle kon insien dat die Here julle straf vir wat julle gedoen het. En dan sou julle kon begryp wat julle uiteinde gaan wees.

30. “Kan dit gebeur dat een mens 1 000 op loop jaag? Kan twee mense 10 000 laat vlug? Ja, dit gebeur nou met jou, Israel. En weet jy hoekom? Want die Een wat julle wou beskerm, het julle aan julle vyande uitgelewer. Hy het moed opgegee met julle. Daarom het Hy julle aan julle vyande oorgegee.”

31. “Maar die nasies het nie Iemand wat hulle beskerm soos hierdie volk nie. Israel se God is groot. Stadig maar seker begin die nasies dit agterkom.

32. Hierdie nasies is afstammelinge van die mense van Sodom en Gomorra, daardie spul wat die allervreeslikste dinge gedoen het. Daarom het God hulle gestraf. Hulle is soos giftige druiwe wat bitter in jou mond smaak en jou doodmaak.

33. Die wyn wat jy van hierdie druiwe maak, is soos dodelike gif. As jy hierdie gif drink, is jy binne sekondes dood.

34. “Toe het die Here gesê: Ek onthou alles wat hierdie mense doen.

35. En dan, op ’n dag, straf Ek hulle vir al die slegte dinge wat hulle gedoen het. Dan sal hulle hard en ver val. Hulle voete sal onder hulle uitgly. Niks sal hulle kan red nie. Die dag dat Ek hulle gaan vernietig, kom vinnig nader. Wat Ek besluit het om met hulle te doen, sal vir seker gebeur. En dit gaan een van hierdie dae gebeur. Hulle sal verwoes word.

36. “Die Here sal sy volk bymekaarmaak om voor Hom te kom staan. Dan sal Hy as die groot Regter elkeen se hofsaak hanteer. Hy sal die mense wat reg voor Hom geleef het, onskuldig verklaar. Hy sal hierdie mense wat getrou aan Hom gebly het, beskerm.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 32