Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 32:1-7 Die Boodskap (DB)

1. “Hoor, almal wat daar bo in die hemel bly. Luister na wat ek sê. Hoor, almal wat op aarde bly. Luister na die woorde wat ek sê.

2. Wat ek julle gaan leer, gaan soos verkwikkende reënwater oor julle spoel. My woorde klink so aangenaam soos dou op die gras. My woorde val soos reëndruppels op jong gras wat pas uitgeloop het. Wat ek leer, is soos sagte reënbuie op jong plante.

3. “Ek wil vir almal vertel van die Here. Ons God is wonderlik!

4. Hy is die Rots waarop ons ons lewe bou, en ons is veilig omdat ons by Hom is. Alles wat Hy doen, is goed en reg. Hy tree altyd reg en goed teenoor almal op. Hy staan by ons, en Hy doen nooit iets verkeerds teenoor ons nie. Hy tree altyd reg teenoor ons op. Hy doen net goed aan ons. Julle kan maar op Hom vertrou!

5. “Israel het Hom al wie weet hoeveel maal in die steek gelaat. ’n Mens kan daarom vra: Is hulle nog regtig sy kinders? Kan Hy hulle nog enigsins gebruik om vir Hom iets te doen? Hulle is regtig ’n slegte spul mense, goed vir niks!

6. “Is dit die manier waarop julle nou vir die Here dankie sê ná alles wat Hy vir julle gedoen het? Julle is die domste klomp mense op aarde. Het julle dan g’n verstand nie? Is Hy nie die Vader wat jou gemaak het nie, Israel? Ja, Hy is jou Skepper. Jy is waar jy is omdat Hy jou tot hier gebring het.

7. Dink ’n bietjie terug aan die pad wat God saam met jou geloop het. Onthou watter goeie dinge Hy vir Israel gedoen het. As jy nie kan onthou nie, vra die ou mense om vir jou te vertel.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 32