Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 3:8-16 Die Boodskap (DB)

8. “So het ons die hele gebied van die Arnonrivier af tot by die berg Hermon oorwin. Daarmee saam het ons ook die twee sterk Amoritiese konings aan die oostekant van die Jordaan vernietig.

9. (Die mense van Sidon het die berg Hermon Sirion genoem en die Amoriete het daarna verwys as Senir.)

10. Ons het al die stede van koning Og van Basan oorwin. Dit is nou al daardie stede in die Hoogvlakte, die hele Gilead en die hele Basan tot by Salka en Edreï.

11. (Og die koning van Basan was die laaste van die Refaïete. Hy was ’n groot kêrel en sy bed was van yster gemaak: vier meter lank en twee meter breed. ’n Mens kan dit nou nog in Rabba, die hoofstad van die Ammoniete, sien.)

12. “Nadat ons hierdie land ingeneem het, het ek dit begin verdeel. Vir Ruben en Gad het ek die hele gebied van Aroër naby die Arnonrivier af tot by sekere gedeeltes van die Gileadberge gegee. Dit het ook ’n aantal stede ingesluit.

13. Vir die helfte van die stam van Manasse het ek die res van Gilead gegee, asook die hele Basan waar Og regeer het. Dit is die hele Argobstreek. Basan is ook soms Refaïeteland genoem.

14. Jaïr die seun van Manasse, het die hele gebied van Argob tot aan die grens van Gesur en Maäkat vir hom geneem. En hy het al die plekke na homself vernoem. Vandag nog staan dit as Jaïrsdorpe bekend.

15. Vir Magir van die stam van Manasse het ek Gilead gegee.

16. Vir Ruben en Gad het ek die hele Gilead tot by die Arnonrivier gegee, asook die gebiede tot by die Jabbokrivier. Dit het tot aan die grens van die Ammoniete gestrek.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 3