Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 29:21-29 Die Boodskap (DB)

21. Die Here sal hierdie mense eenkant sit, weg van die ander stamme van Israel se mense. Dan sal Hy hulle straf. Al die teëspoed waarvan hierdie boek vertel, sal oor hulle kom.

22. “Julle kleinkinders en agterkleinkinders en vreemdelinge wat van ander lande af kom en later in hierdie land aankom, sal sien hoe verwoes julle land is. Hulle sal sien hoeveel siektes die Here teen die mense van hierdie land gebring het.

23. Hulle sal sien dat die hele land afgebrand is. Al wat oorgebly het, is swael en sout. Alles in julle land is onvrugbaar. Niks wil groei nie. Nie eens gras kom meer op nie. Julle land sal soos Sodom en Gomorra wees, soos Adma en Sebojim. Die Here het mos hierdie stede verwoes toe die inwoners aangehou het om slegte dinge te doen. Hulle het nie ’n gedagte aan God gegee nie. Die Here het toe kwaad geword en hulle met wortel en tak uitgeroei.

24. Die nasies wat rondom julle bly, sal dan vra: ‘Hoekom het die Here iets so verskrikliks met hierdie land gedoen? Wat het Hom so woedend gemaak dat Hy so opgetree het?’

25. “Dan sal daar vir hulle gesê word: ‘Dit het gebeur omdat die inwoners van hierdie land die ooreenkoms geïgnoreer het wat hulle God met hulle gesluit het. Hulle het hulle nie gesteur aan wat hierdie ooreenkoms sê die Here van hulle verwag nie. Dit is hierdie God wat hulle uit Egipte gebring het, soos Hy hulle oupagrootjies belowe het Hy sal doen.

26. Hulle het weggedraai van die Here en ander gode gaan dien.

27. Dis hoekom die Here so kwaad vir hulle geword het en hoekom Hy hulle land verwoes het. Hy het al die teëspoed oor hulle gebring waaroor Hy hulle in hierdie boek gewaarsku het.

28. Die Here was so kwaad en ontsteld dat Hy die mense van hierdie land uit hulle land gegooi het. Hy het hierdie mense as gevangenes laat wegvoer na ver en vreemde lande. En dis waar hulle vandag nog leef.’

29. “Daar is geheime dinge wat net die Here ons God weet. Hy het dit nie aan ons geopenbaar nie. Maar die dinge wat Hy wel aan ons geopenbaar het, moet ons doen. Hy het vir ons en ons kinders en kleinkinders gewys wat Hy wil hê ons moet doen. Ons moet lewe soos Hy wil hê ons moet.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 29