Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 28:61-68 Die Boodskap (DB)

61. Die Here sal elke siekte en plaag wat daar op aarde is, gebruik om jou lewe in hel te verander. Selfs die siektes wat nie in hierdie boek genoem word nie, sal jou tref. Dit sal aanhou totdat jy later heeltemal uitgeroei is.

62. Selfs al is jou mense so baie soos die sterre in die hemel, sal daar baie min van hulle oorleef omdat jy nie wou luister toe die Here jou God met jou gepraat het nie.

63. “Vroeër was dit vir die Here lekker om jou te help. Hy het dit geniet om goed aan jou te doen. Jy het voorspoed beleef en jou volk het groot geword. Maar nou sal dit vir die Here lekker wees om jou te vernietig. Jy sal verdwyn uit die land waar jy nou gaan bly.

64. Die Here sal jou uit daardie land wegvat en jou oor al die lande wat daar op die aarde is, verstrooi. In daardie vreemde lande sal julle vreemde gode moet aanbid waarvan julle en julle oupas nog nie eens gehoor het nie. Daardie mense se gode is van hout en klip gemaak.

65. Tussen daardie mense sal julle nooit veilig wees nie. Die Here sal maak dat julle heeldag bang en benoud sal wees. Julle oë sal ingee en swak word. En julle sal so wanhopig word dat julle nie meer kans sien om die toekoms in te gaan nie.

66. Julle sal nie weet of julle môre nog gaan leef nie. Julle sal dag en nag bang wees. Niks sal vir julle hoop bring nie. Julle sal twyfel of julle môre gaan sien.

67. In die oggend sal julle wens dat dit al aand is. En in die aand sal julle wens dat dit al weer môre is. Julle sal wens die tyd gaan verby omdat al wat julle heeldag sien, net moeilikhede en probleme is. Dit is die vreeslikste dinge wat oor jou sal kom.

68. Dan sal die Here jou terugstuur na Egipte. Hy het belowe dat jy nooit weer na die groot ellende van Egipte sal teruggaan nie. Maar jy sal gaan en daar sal hulle julle aan mense probeer verkoop wat julle hard sal laat werk, maar nooit vir julle enige betaling sal gee nie. Maar daar sal nie eens iemand wees wat belang sal stel om julle te koop nie.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 28