Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 28:50-57 Die Boodskap (DB)

50. Hulle sal wrede mense wees wat jou voor die voet uitroei en vir niks of niemand jammer is nie. Hulle sal nie eens die oumense of die klein kindertjies spaar nie.

51. Hulle soldate sal so baie wees dat hulle al jou vee en al jou oeste nodig sal hê om te eet. En jy sal van honger doodgaan. As hulle met jou klaar is, sal jy niks nuwe wyn of olyfolie of kalwers of lammers oorhê nie. Hulle sal jou vernietig.

52. “Hulle sal jou stede aanval tot hulle al die mure om die stede afgebreek het. Jy het mos gedink jy is veilig omdat daar sulke hoë mure om jou stede is! Wel, daar sal nie ’n enkele stad bly staan in die land wat die Here vir jou gegee het om in te woon nie.

53. As hulle om jou stede saamtrek sodat jy nie kan ingaan of uitgaan nie, sal die kos later opraak. Dit sal dan so sleg gaan dat julle julle eie seuns en dogters sal moet eet om te oorleef. Dit is die seuns en dogters wat die Here vir julle gegee het.

54. Die saggeaardste man onder julle sal dan nie omgee vir sy eie broer of vir sy vrou wat hy baie liefhet, of vir sy kinders wat nog leef nie.

55. Hy sal weier om vir hulle ’n stukkie te gee van die vleis wat hy eet; die vleis van sy eie kinders. Hy sal baie honger wees en hy sal niks anders hê om te eet in hierdie tyd nie.

56. Die saggeaardste en mees verfynde vrou onder julle, wat voorheen so baie van haarself gedink het dat sy nie eens haar voete wou vuil maak deur in ’n stofstraat te stap nie, sal wreed word teenoor haar eie man en haar eie seun en dogter.

57. Sy sal haar nageboorte en haar pasgebore baba wegsteek sodat hulle dit nie saam met haar kan eet nie. Sy sal die baba eet waar niemand haar kan sien nie. Sy sal niks anders hê om te eet in hierdie tyd wanneer julle vyande julle stede aanval en julle van die honger doodgaan nie.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 28