Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 5:10-18 Die Boodskap (DB)

10. Die koning se ma het die lawaai gehoor wat die koning en sy gaste gemaak het. Sy stap toe die eetsaal binne en sê: “Lank lewe die koning! U Majesteit, moet tog nie so ontsteld en bang wees oor hierdie saak nie.

11. Daar is ’n man hier in die ryk in wie die Gees van die heilige God is. Toe jou pa nog regeer het, het almal geweet dat hierdie man sy gesonde verstand kon gebruik en dat hy baie slim was. Dit was amper of hy self ’n god was. Jou pa, koning Nebukadnesar, het hom as hoof oor al die towenaars, fortuinvertellers, sterrevoorspellers en besweerders aangestel.

12. Hy het ’n flink brein met ’n buitengewone vermoë om drome te kan uitlê, probleme op te los en moeilike sake uit te sorteer. Laat roep vir Daniël, vir wie jou pa die naam Beltsasar gegee het. Hy sal vir jou kan sê wat die skrif teen die muur beteken.”

13. Daniël is dadelik laat haal. Die koning vra toe vir hom: “Is jy die Daniël wat deur my vader, Nebukadnesar, saam met die ander ballinge uit Juda hiernatoe gebring is?

14. Ek het gehoor hulle sê dat die Gees van die heilige God in jou is en dat jy baie slim is en weet hoe om probleme op die regte manier op te los.

15. Ek het my raadgewers en voorspellers laat kom om vir my te sê wat daar op die muur geskryf staan, en watter betekenis dit vir my het, maar hulle kon dit nie doen nie.

16. As jy kan lees wat daar geskryf staan en vir my kan sê wat dit beteken, sal ek vir jou ’n koninklike kleed gee om te dra en ’n goue ketting om jou nek. Jy sal saam met my oor my ryk regeer as die persoon wat derde in bevel is.”

17. Daniël het geantwoord: “Hou gerus maar u geskenke vir uself of gee dit vir iemand anders. Ek sal in elk geval vir U Majesteit lees wat daar geskryf staan en wat dit beteken.

18. Die allerhoogste God het u vader, Nebukadnesar, ’n magtige en beroemde koning gemaak en aan hom groot eer gegee.

Lees volledige hoofstuk Daniël 5