Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 2:4-15 Die Boodskap (DB)

4. Die sterrevoorspellers het in Aramees vir die koning gesê: “Lank lewe die koning! As u net vir ons sê wat u gedroom het, sal ons vir u presies kan sê wat dit beteken.”

5. Maar die koning antwoord hulle: “Kyk, ek het besluit julle moet vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken. As julle dit nie kan doen nie, sal ek julle stadig laat doodmaak en julle huise sal verwoes word sodat die mense wat daar verbyloop, sal dink dis ’n ashoop.

6. Aan die ander kant, as julle wel vir my kan sê wat ek gedroom het en wat dit beteken, sal ek julle vereer en vir julle baie geskenke gee. Dit is mos eenvoudig: al wat ek wil hê, is dat julle vir my moet sê wat ek gedroom het en wat dit beteken.”

7. Hulle sê toe weer vir die koning: “Asseblief, U Majesteit, vertel ons net wat u gedroom het, dan verduidelik ons vir u wat dit beteken.”

8. “Dis nes ek gedink het!” het Nebukadnesar gebulder. “Julle is besig om vir tyd te speel omdat julle weet ek is ernstig oor wat ek gesê het.

9. As julle nie my droom onmiddellik uitlê nie, is dit verby met julle. Julle het saam besluit om aan te hou om vir my leuens te vertel in die hoop dat iets dalk kan verander. Ek wil nóú by julle weet wat ek gedroom het sodat ek kan sien dat julle ook die droom kan uitlê!”

10. Toe sê die sterrevoorspellers vir die koning: “Daar is nie ’n mens op hierdie aarde wat kan doen wat u van ons verwag nie. Geen koning, hoe groot of magtig hy ook al was, het nog ooit so iets van sy towenaars, toekomsvoorspellers of sterrevoorspellers verwag nie.

11. Dit is onmoontlik vir ’n mens om te doen wat u vra. Net die gode sou so iets kon doen, maar ongelukkig bly hulle nie hier op aarde tussen die mense nie.”

12. Die koning was buite homself van woede oor hierdie antwoord. Daarom het hy beveel dat al die koninklike raadgewers in Babel doodgemaak moes word.

13. Hierdie koninklike opdrag, dat al die koning se raadgewers doodgemaak moes word, het ook vir Daniël en sy vriende ingesluit. Hulle is gesoek.

14. Toe Arjok, die bevelvoerder van die koning se lyfwagte, kom om hulle dood te maak, het Daniël met hom gepraat. Hy het sy woorde versigtig gekies en sonder om aanstoot te gee

15. vir Arjok gevra waarom die koning so ’n wrede opdrag gegee het. Arjok het toe vir hom vertel wat presies gebeur het.

Lees volledige hoofstuk Daniël 2