Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 2:16-27 Die Boodskap (DB)

16. Daniël het toe dadelik na die koning toe gegaan en vir hom gevra om nie die opdrag te laat uitvoer nie, sodat hy die koning se droom vir hom kon uitlê.

17. Daniël is toe terug huis toe, waar hy vir sy vriende Gananja, Misael en Asarja vertel het wat gebeur het.

18. Hy het hulle gevra om tot die God van die hemel te bid om vir hulle goed te wees en om vir hulle te sê wat die geheim van die droom was sodat hulle nie saam met al die ander raadgewers van Babel doodgemaak sou word nie.

19. Daardie selfde nag nog is die geheim in ’n visioen aan Daniël bekendgemaak. Hieroor het Daniël die God van die hemel geprys:

20. “Prys God se Naam nou en vir altyd, Hy alleen het al die kennis en mag.

21. Hy bepaal die koers van alles en almal in die wêreld; Hy haal konings uit hulle magsposisies uit en stel ander in hulle plek aan. Hy gee kennis en insig.

22. Hy maak geheime dinge bekend; Hy weet wat in die donker gebeur, maar Hyself word deur die lig omring.

23. Ek loof en prys U, God van my voorouers, U het vir my kennis en mag gegee en na my gebed geluister. U het vir ons gewys wat om vir die koning te sê.”

24. Daniël is toe daar weg na Arjok toe wat die opdrag gehad het om al die koninklike raadgewers dood te maak. Hy sê toe vir hom: “Moenie die raadgewers doodmaak nie. Vat my na die koning toe. Ek sal sy droom se betekenis vir hom verduidelik.”

25. Arjok het dadelik vir Daniël na koning Nebukadnesar toe gevat en vir hom gesê: “Ek het tussen die Judese gevangenes iemand gekry wat U Majesteit se droom kan verduidelik.”

26. Die koning het vir Daniël, wat ook Beltsasar genoem is, gevra: “Is dit waar? Kan jy regtig vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken?”

27. Daniël het geantwoord: “Daar is geen raadgewer, waarsêer of sterrevoorspeller wat in staat is om te doen wat u verwag nie.

Lees volledige hoofstuk Daniël 2