Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 11:27-40 Die Boodskap (DB)

27. Die twee konings sal om die tafel vir mekaar sit en lieg. Dit sal in elk geval nie help nie, want nie een van hulle sal kry wat hulle wil hê nie, omdat God anders besluit het.

28. “Hierna sal die koning van die noorde met al sy oorlogsbuit omdraai huis toe. Op pad terug sal hy eers probeer om God se verbondsvolk en hulle godsdiens uit te roei. Nadat hy met hulle gedoen het wat hy wou, sal hy uiteindelik koers kies terug huis toe.

29. “Later sal hy weer die suide binneval, maar hierdie keer sonder sukses.

30. Die Romeine sal met hulle vloot teen hom optrek en dit sal hom vinnig van besluit laat verander. Om sy vernedering te wreek sal hy sy woede op God se verbondsvolk kom uithaal. Daar sal hy luister na die mense wat nie meer in God glo nie.

31. Van sy soldate sal in die tempel ingaan en God se heilige Naam skend. Hulle sal die mense verbied om hulle godsdiens te beoefen en ’n gruwelike afgodsbeeld op die altaar in die tempel neersit, ’n ding wat tot opstand lei.

32. Hy sal dié wat reeds die rug vir God gedraai het, met vleitaal aan sy kant kry, maar die mense wat God dien, sal sterk staan teen hom.

33. Van die verstandige leiers sal aan die volk die regte leiding gee. Maar ook hulle sal vir ’n tyd lank doodgemaak, verbrand, beroof en in die tronk gegooi word.

34. Tydens daardie vervolging sal hulle darem ’n bietjie hulp van baie mense kry. Ongelukkig sal sommige mense wat hulle kom help, se motiewe nie heeltemal suiwer wees nie.

35. Party van die goeie leiers sal doodgemaak word. Dit alles sal die volk net sterker en meer vasberade maak om voluit vir God te leef. Hierdie vervolging sal aanhou tot die tyd kom wat God bepaal het.

36. “Die koning van die noorde sal doen net wat hy wil. Hy sal oor homself spog en sê dat hy groter is as enige god. So vol is hy van homself dat hy hom selfs met die allerhoogste God sal vergelyk. Hy sal hiermee aanhou totdat God se woede teen sy volk bedaar het. Want God het alles fyn beplan en dit sal gebeur soos Hy wil.

37. Hierdie koning van die noorde sal hom nie steur aan die gode van sy voorouers of aan daardie god wat party vroue aanbid of aan enige ander god nie. Hy sal loop en vertel dat hy sterker is as enigeen van hulle.

38. Hy sal die god van die versterkte stede aanbid, ’n vreemde god wat sy voorouers nie eens geken het nie. Hy sal hierdie vreemde god dien met geskenke van goud, silwer, edelstene en ander kosbare geskenke.

39. Met die hulp van hierdie vreemde god sal hy sy vyande se sterk stede aanval. Dié wat hom as koning erken, sal hy in hoë posisies in sy regering aanstel en vir hulle grond skenk as beloning.

40. “Wanneer die koning van die noorde se laaste uur byna aangebreek het, sal die koning van die suide hom aanval. Maar die koning van die noorde sal hom met sy volle leër teëstaan. Hy sal tegelyk sommer baie ander lande ook inneem. Hy sal oor hulle loop soos ’n rivier wat sy walle oorstroom.

Lees volledige hoofstuk Daniël 11