Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 11:21-35 Die Boodskap (DB)

21. “Hy sal opgevolg word deur ’n slegte man wat nie die reg het om koning te wees nie. Maar hy sal niksvermoedende mense om die bos lei met sy skelm planne en die koningskap oorneem voordat hulle hulle oë kan uitvee.

22. Hy sal enige mag wat hom probeer teëstaan, uit die pad vee, selfs ook die hoëpriester van God se eie volk.

23. Hy sal deur leuens en skelmstreke met baie ander lande ooreenkomste sluit om homself te bevoordeel. Al regeer hy oor ’n klein volkie, sal hy al hoe magtiger word.

24. Hy sal sonder waarskuwing een van die rykste provinsies binneval en vieslike dinge doen waarvan sy voorgangers nie eens gedroom het nie: hy sal die buit wat hy van die rykes gevat het vir sy volgelinge gee om dit onder hulle te verdeel. Hy sal ook planne maak om van die versterkte stede van die ander volke aan te val, maar dit sal nie lank wees voor die uurglas vir hom leegloop nie.

25. “Dan sal hy ’n groot leër bymekaarmaak om die koning van die suide aan te val. Die koning van die suide sal hom inwag met sy eie sterk en groot leër, maar dit sal hom niks baat nie, omdat daar stilletjies ’n komplot teen hom gesmee is.

26. Sy vertrouelinge sal hom in die rug steek. Baie van sy soldate sal in die geveg doodgaan en sy leër sal verslaan word.

27. Die twee konings sal om die tafel vir mekaar sit en lieg. Dit sal in elk geval nie help nie, want nie een van hulle sal kry wat hulle wil hê nie, omdat God anders besluit het.

28. “Hierna sal die koning van die noorde met al sy oorlogsbuit omdraai huis toe. Op pad terug sal hy eers probeer om God se verbondsvolk en hulle godsdiens uit te roei. Nadat hy met hulle gedoen het wat hy wou, sal hy uiteindelik koers kies terug huis toe.

29. “Later sal hy weer die suide binneval, maar hierdie keer sonder sukses.

30. Die Romeine sal met hulle vloot teen hom optrek en dit sal hom vinnig van besluit laat verander. Om sy vernedering te wreek sal hy sy woede op God se verbondsvolk kom uithaal. Daar sal hy luister na die mense wat nie meer in God glo nie.

31. Van sy soldate sal in die tempel ingaan en God se heilige Naam skend. Hulle sal die mense verbied om hulle godsdiens te beoefen en ’n gruwelike afgodsbeeld op die altaar in die tempel neersit, ’n ding wat tot opstand lei.

32. Hy sal dié wat reeds die rug vir God gedraai het, met vleitaal aan sy kant kry, maar die mense wat God dien, sal sterk staan teen hom.

33. Van die verstandige leiers sal aan die volk die regte leiding gee. Maar ook hulle sal vir ’n tyd lank doodgemaak, verbrand, beroof en in die tronk gegooi word.

34. Tydens daardie vervolging sal hulle darem ’n bietjie hulp van baie mense kry. Ongelukkig sal sommige mense wat hulle kom help, se motiewe nie heeltemal suiwer wees nie.

35. Party van die goeie leiers sal doodgemaak word. Dit alles sal die volk net sterker en meer vasberade maak om voluit vir God te leef. Hierdie vervolging sal aanhou tot die tyd kom wat God bepaal het.

Lees volledige hoofstuk Daniël 11