Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 1:3-13 Die Boodskap (DB)

3. Die koning het vir Aspenas, die hoofbeampte van die paleis, opdrag gegee om van die jongmense uit die koninklike familie en ook uit die ander belangrike families van Juda te kies en hulle paleis toe te bring.

4. Hulle moes sonder gebreke, sterk, aantreklik en slim wees. Hulle moes dinge vinnig kon snap en ingelig wees, en geskik vir werk in die koning se paleis. Aspenas moes hulle ook leer om Galdees, die taal van die Babiloniërs, te lees en te skryf.

5. Die koning het ook opdrag gegee dat hulle dieselfde kos en wyn as hy en sy gesin moes eet en drink. Hulle moes net die beste kry. Hulle moes vir drie jaar opleiding kry sodat hulle daarna as raadgewers van die koning in sy paleis kon werk.

6. Onder die Judese jongmense wat gekies is, was Daniël, Gananja, Misael en Asarja.

7. Die hoofbeampte van die paleis het egter vir hulle elkeen ’n ander naam gegee. Vir Daniël het hy Beltsasar genoem, vir Gananja Sadrag, vir Misael Mesag en vir Asarja Abednego.

8. Daniël het besluit om nie van die koning se ryk kos en wyn te eet en te drink nie. Dan sou hy ongehoorsaam wees aan die Israelitiese reëls oor wat ’n mens mag eet en wat nie. Daarom het hy die hoofbeampte van die paleis se toestemming gevra om dit nie te doen nie.

9. Deur God se goedheid het Aspenas baie respek vir Daniël gehad,

10. maar hy het vir Daniël gesê: “Ek is bang vir die koning. Hy het besluit wat julle moet eet en drink. As jy nie so goed soos die ander jongmense lyk nie, is ek in groot moeilikheid. Hy mag selfs besluit om my dood te maak.”

11. Daniël het toe vir die amptenaar wat deur Aspenas aangestel is om na hom en sy drie vriende om te sien, gesê:

12. “Gee ons tien dae kans om onsself te bewys. Laat ons toe om net water te drink en groente te eet.

13. Vergelyk ons dan met die ander jongmense wat die kos eet wat die koning voorgeskryf het. Besluit dan op grond van wat u sien of ons daarna met ons eie dieet kan aanhou of nie.”

Lees volledige hoofstuk Daniël 1