Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 3:25-34 Die Boodskap (DB)

25. Jy ken tog vir Abner, daardie seun van Ner! Hy het jou lekker om die bos gelei: hy het net hiernatoe gekom om uit te vind wat jou planne is en wat jy doen.”

26. Joab het van Dawid af weggegaan en, sonder dat Dawid dit weet, manne agter Abner aangestuur om hom terug te roep. Hulle het Abner by Doringputs ingehaal en hom teruggebring.

27. Toe hy in Hebron kom, het Joab hom eenkant toe in die poort van die dorp gevat om kamma vertroulik met hom te praat. Maar net daar het Joab hom met ’n mes in die maag gesteek. Hy is op die plek dood. Joab het dit gedoen om sy broer Asael se dood te wreek.

28. Dawid het agterna eers gehoor wat gebeur het. Hy het gesê: “Die Here is my getuie dat ek en my regering nooit verantwoordelik gehou kan word vir die moord op Abner, Ner se seun, nie.

29. Joab en sy hele familie sal daarvoor betaal: daar sal altyd van sy familielede wees wat vuilsiekte of ’n velsiekte het, of wat met krukke loop of doodgesteek word of honger ly.” (

30. Joab en sy broer Abisai het Abner natuurlik vermoor omdat hy hulle broer Asael in die geveg by Gibeon doodgesteek het.)

31. Daarna sê Dawid vir Joab en al die mense by hom: “Skeur julle klere en bind swart bokhaardoeke om julle lywe en loop in die stoet voor Abner se lyk.” Koning Dawid het self reg agter die draagbaar geloop.

32. Hulle het Abner in Hebron begrawe. Dawid het kliphard by die graf gehuil. Almal het saamgehuil.

33. Die koning het dié klaaglied vir Abner gesing:Abner, waarom moes jy doodgemaak word? Asof jy niks werd is,

34. is jou hande nie geboei, jou voete nie vasgemaak nie; is jy dood soos iemand wat deur straatboewe aangeval is.Toe die mense die lied hoor, het hulle nog meer gehuil oor Abner.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 3