Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 3:21-30 Die Boodskap (DB)

21. By die ete sê Abner vir Dawid: “U Majesteit, ek gaan die leiers van al die Israeliete hier na u toe bring sodat hulle met u ’n ooreenkoms kan maak. Dan kan u wens waar word en kan u koning wees oor die hele land.”Na die tyd het Dawid vir Abner laat gaan. Hulle is as goeie vriende uitmekaar.

22. Net nadat Abner so sonder dat iets aan hom gedoen is, weg is uit Hebron, het Joab saam met Dawid se soldate daar aangekom. Hulle was weer op ’n strooptog en het sommer baie goed by hulle gehad.

23. Toe hulle daar aankom, vertel die mense vir Joab dat Abner, Ner se seun, by die koning was en dat die koning hom laat gaan het sonder om iets aan hom te doen.

24. Joab is dadelik na die koning toe. “Wat het jy nou aangevang?” vra hy vir Dawid. “Abner kom hier na jou toe en jy laat hom sowaar gaan sonder om enigiets aan hom te doen!

25. Jy ken tog vir Abner, daardie seun van Ner! Hy het jou lekker om die bos gelei: hy het net hiernatoe gekom om uit te vind wat jou planne is en wat jy doen.”

26. Joab het van Dawid af weggegaan en, sonder dat Dawid dit weet, manne agter Abner aangestuur om hom terug te roep. Hulle het Abner by Doringputs ingehaal en hom teruggebring.

27. Toe hy in Hebron kom, het Joab hom eenkant toe in die poort van die dorp gevat om kamma vertroulik met hom te praat. Maar net daar het Joab hom met ’n mes in die maag gesteek. Hy is op die plek dood. Joab het dit gedoen om sy broer Asael se dood te wreek.

28. Dawid het agterna eers gehoor wat gebeur het. Hy het gesê: “Die Here is my getuie dat ek en my regering nooit verantwoordelik gehou kan word vir die moord op Abner, Ner se seun, nie.

29. Joab en sy hele familie sal daarvoor betaal: daar sal altyd van sy familielede wees wat vuilsiekte of ’n velsiekte het, of wat met krukke loop of doodgesteek word of honger ly.” (

30. Joab en sy broer Abisai het Abner natuurlik vermoor omdat hy hulle broer Asael in die geveg by Gibeon doodgesteek het.)

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 3