Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 17:6-21 Die Boodskap (DB)

6. Toe Gusai inkom, sê Absalom vir hom: “Dis wat Agitofel gesê het. Moet ons dit doen? As jy nie saamstem nie, moet jy praat.”

7. Gusai sê toe: “Agitofel se plan is hierdie keer nie so goed nie.

8. U ken u pa en sy manne: hulle is baie dapper en hulle is nou so kwaai soos ’n wilde beer wie se kleintjies afgeneem is. U pa is ’n ou soldaat: hy sal nie vannag by die manskappe slaap nie.

9. U kan seker wees hy kruip weg in ’n klipskeur of so ’n plek. As van Agitofel se manne doodgemaak word in die eerste aanval, sal daar ’n storie versprei dat daar sommer baie van Absalom se mense dood is.

10. Dan sal selfs die dapper manne wat vir g’n duiwel stuit nie, se moed hulle begewe, want al die Israeliete weet dat u pa ’n vegter is en dat daar dapper manne by hom is.

11. “My plan sal wees om eers al die Israeliete wat kan veg, van Dan in die noorde tot by Berseba in die suide, bymekaar te maak. Maak soveel manne bymekaar as wat daar sandkorrels op die seestrand is. Gaan veg u dan self saam met hulle.

12. Dan kan ons hom op enige plek aanval. Ons sal op hom toesak soos ’n bui reën op ’n land. Wegkomkans sal daar nie vir hom of enige van die manne by hom wees nie.

13. En as hy in ’n stad met mure om is, bring al die Israeliete toue en ons sleep daardie hele stad in die vallei in. Van daardie stad sal daar nie een klip op die ander oorbly nie.”

14. Absalom en al die manne van Israel het gesê Gusai die Erekiet se plan is beter as Agitofel s’n. Dit was eintlik maar die Here wat besluit het om Agitofel se goeie plan in die wiele te ry, want Hy wou hê ’n ramp moet Absalom tref.

15. Gusai het vir Sadok en Abjatar, die twee priesters, gaan sê: “Dit is die raad wat Agitofel vir Absalom en die leiers van Israel gegee het en dit is die raad wat ek gegee het.

16. Laat weet dadelik vir Dawid hy moenie vannag by die deurgaanplekke in die Jordaanvallei slaap nie. Hy moet deur die rivier gaan, anders is dit klaarpraat met die koning en die mense by hom.”

17. Jonatan en Agimaäs het by Rogelfontein gewag, want niemand moes hulle in die stad sien nie. ’n Slavin sou vir hulle die boodskap bring, en hulle sou dit dan weer vir koning Dawid vat.

18. Maar ’n jong seun het hulle gesien en dit vir Absalom gaan vertel. Jonatan en Agimaäs het so vinnig moontlik padgegee na die huis van iemand in Bagurim wat ’n put in sy binnehof gehad het. Hulle het in die put afgeklim

19. en die vrou het ’n doek oor die put gespan. Sy het garsmeel op die doek gegooi en dit oopgekrap sodat niemand iets sou agterkom nie.

20. Die manne van Absalom het in die vrou se huis ingegaan en vir haar gevra waar Agimaäs en Jonatan is. Sy het geantwoord: “Hulle is daar by die kraal verby af rivier toe.”Die manne het gesoek, maar niks gekry nie. Hulle is toe weer terug Jerusalem toe.

21. Na hulle weg is, het Jonatan en Agimaäs uit die put geklim en vir koning Dawid gaan sê watter plan Agitofel vir Absalom gegee het, en dat hy daarom baie gou deur die rivier moes gaan.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 17