Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 14:8-21 Die Boodskap (DB)

8. “Jy kan maar huis toe gaan,” het die koning vir haar gesê. “Ek sal sorg dat dit nie gebeur nie.”

9. Maar die vrou van Tekoa sê vir hom: “U Majesteit, maar my skoonfamilie gaan my en my eie familie beskuldig. Hulle sal nie die vinger na u of u regering wys nie.”

10. “As iemand iets daaroor te sê het, bring jy hom net na my toe. Ek verseker jou, hy sal jou nie weer pla nie,” sê die koning.

11. “U Majesteit,” sê die vrou, “u moet asseblief voor die Here u God sweer dat u sal keer dat die een wat wraak wil neem my seun doodmaak en so nog meer moeilikheid veroorsaak.”Die koning sê toe vir haar: “Ek sweer voor die Here, hulle sal nie aan jou seun raak nie.”

12. “Mag ek nog iets vir u sê, U Majesteit?” vra die vrou.“Ja, sê maar,” antwoord die koning.

13. Toe sê die vrou: “Waarom het u dan ’n plan gehad om wraak te neem op iemand wat aan God se volk behoort? Toe U Majesteit nou net gesê het hulle mag nie wraak neem op my seun nie, het u uself eintlik skuldig verklaar. Mag u verlore seun dan nie terugkom nie?

14. “Ons sal almal eendag doodgaan. ’n Mens kan iemand wat dood is nie weer terugbring nie. Dis soos wanneer ’n mens water op die grond uitgooi; jy kan dit nie weer terugkry nie. God vergewe nie sommer moord nie, maar Hy wil tog hê dat iemand wat ’n balling is, weer na Hom en sy volk moet terugkom.

15. “Ek het dit gewaag om met my koning hieroor te kom praat. Omdat die mense my bang maak, het ek gedink: ‘Ek sal met die koning gaan praat. Miskien sal hy doen wat hierdie nederige vrou vir hom vra.

16. Miskien sal die koning luister en hierdie vrou help teen die man wat my en my seun saam wil afkry van die grond af wat God vir ons gegee het.’

17. “Ek het ook gedink: ‘Die uitspraak wat my koning gaan gee, sal die saak oplos, want my koning is soos ’n engel uit die hemel wanneer hy ’n saak moet beoordeel.’ “Dis al wat ek wou sê. Mag die Here u God u help.”

18. Die koning sê toe vir die vrou: “Ek wil vir jou iets vra, maar jy moet my baie eerlik antwoord.”“Vra maar, U Majesteit,” sê die vrou.

19. “Het Joab iets hiermee te doen?” vra hy haar.“U Majesteit,” sê sy, “’n mens kan sowaar niks vir u wegsteek nie! Ja, dit was u generaal, Joab, wat vir my gesê het om dit te doen. Hý het ook vir my alles gesê wat ek vir u moet sê.

20. Joab het dit gedoen sodat u ’n bietjie uit ’n ander hoek na die saak kan kyk. Maar, U Majesteit, u is so slim soos ’n engel uit die hemel; u weet alles wat in die land gebeur.”

21. Die koning het daarna vir Joab gesê: “Ja goed, ek sal doen wat jy wil hê. Laat die jongman Absalom maar terugkom.”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 14