Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 8:10-18 Die Boodskap (DB)

10. Koning Salomo het 250 van hulle aangestel as toesighouers oor sy projekte.

11. Salomo het sy vrou, wat ’n dogter van die farao was, uit die Stad van Dawid verskuif na die nuwe paleis wat hy vir haar gebou het. Hy het gesê: “My vrou moet nie in koning Dawid se paleis woon nie, want die ark van die Here was daar en daarom is dit heilig.”

12. Daarna het Salomo offers vir die Here verbrand op die altaar van die Here wat hy net buite die pilaargang voor die tempel gebou het.

13. Die offers het van dag tot dag gewissel, volgens die opdragte van Moses. Daar was ekstra offers op die sabbatte, op nuwemaansfeeste en by die drie jaarlikse feeste. Die drie was die fees van die ongesuurde brode, die fees van die weke en die huttefees.

14. Hy het ook volgens die voorskrifte van Dawid die priesters se diensbeurte per afdeling gereël. Dit is ook vir die Leviete gedoen vir hulle beurte by die lofsang, hulle hulp aan die priesters soos dit daagliks nodig was en hulle diensbeurte as wagte by elke poort van die stad. Dit was ’n opdrag van Dawid, die man van God.

15. Salomo het glad nie afgewyk van Dawid se voorskrifte oor die priesters, die Leviete of die skatkamers nie.

16. Dit is hoe Salomo verseker het dat alle werk ten opsigte van die tempel van die Here voltooi is: van die dag toe die fondasies gelê is tot op die dag toe alles voltooi is.

17. Later het Salomo na Esjon-Geber en Elat, albei hawens in Edom, aan die kus van die Rooisee, gegaan.

18. Hiram het vir hom skepe gestuur, met ervare bemanning onder bevel van hulle eie offisiere uit Tirus. Hulle is saam met Salomo se mense Ofir toe om ’n vrag van omtrent vyftien en ’n half ton goud vir koning Salomo te gaan haal.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 8