Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 5:10-14 Die Boodskap (DB)

10. Daar was niks in die ark nie behalwe die twee plat klippe wat Moses by Horeb daarin gesit het. Hy het dit gedoen toe die Here ’n ooreenkoms met Israel aangegaan het, nadat hulle uit Egipte vertrek het.

11. Die priesters het toe die Heilige plek verlaat. Al die priesters, of dit dié dag hulle diensbeurt was of nie, het hulleself gereinig soos wat die Here se voorskrifte bepaal.

12. Al die Levitiese sangers, dit is al die groepe van Asaf, Heman en Jedutun, het hulle linneklere aangehad. Hulle het oos van die altaar reggestaan met simbale, harpe en liere, en daar was omtrent 120 priesters met trompette by hulle.

13. Die trompetspelers en sangers het saam die Here geprys en gedank. Met die begeleiding van trompette, simbale en ander instrumente, het hulle hard begin sing en die Here met die volgende woorde geloof: “Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.”Net toe het ’n wolk die tempel van die Here heeltemal volgemaak.

14. Die priesters kon nie met hulle werk aangaan nie, want die Here se heerlikheid was binne-in die tempel.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 5