Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 36:1-12 Die Boodskap (DB)

1. Die mense van die land het Josia se seun Joahas in sy plek koning in Jerusalem gemaak.

2. Joahas was 23 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het drie maande lank in Jerusalem regeer.

3. Die Egiptiese koning het hom toe sy koningskap ontneem en die land met omtrent drie en ’n half ton silwer en 34 kilogram goud beboet.

4. Die Egiptiese koning het toe sy broer Eljakim koning gemaak oor Juda en Jerusalem en sy naam na Jojakim verander. Hy het Joahas as gevangene saamgevat Egipte toe.

5. Jojakim was 25 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het elf jaar lank in Jerusalem regeer. Die Here was nie tevrede met wat Jojakim gedoen het nie.

6. Koning Nebukadnesar van Babel het hom aangeval, met dik kettings vasgebind en na Babel toe weggevat.

7. Nebukadnesar het ook voorwerpe uit die tempel van die Here vir homself gevat en dit in sy tempel in Babel gaan sit.

8. Die res van Jojakim se geskiedenis, al die slegte dinge wat hy gedoen het en wat met hom gebeur het, is opgeskryf in Die Geskiedenis van die Konings van Israel en Juda.Sy seun Jojagin het hom opgevolg.

9. Jojagin was agtien jaar oud toe hy koning geword het. Hy het drie maande lank in Jerusalem regeer. Die Here was nie tevrede met wat Jojagin gedoen het nie.

10. In die lente van die volgende jaar het Nebukadnesar hom na Babel toe laat bring. ’n Klomp van die kosbare voorwerpe van die Here se tempel is toe ook na Babel toe weggevat.Nebukadnesar het Jojagin se broer Sedekia koning van Juda en Jerusalem gemaak.

11. Sedekia was 21 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het elf jaar lank in Jerusalem regeer.

12. Die Here was nie tevrede met wat Sedekia gedoen het nie. Hy het geweier om na die profeet Jeremia, wat namens God gepraat het, te luister.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 36