Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 34:9-22 Die Boodskap (DB)

9. Hulle het die geld wat die mense as bydraes na die tempel gebring het, vir die hoëpriester Gilkija gaan gee. Dit was geld wat die Leviete as deurwagte bymekaargemaak het. Hulle het dit uit Manasse, Efraim en die res wat van Israel oorgebly het, gekry. Dit is ook van die mense van Juda, Benjamin en Jerusalem gekry.

10. Die geld is aan die kontrakteurs betaal wat moes sorg dat die tempelgebou herstel word. Hulle moes die geld gebruik om die vakmanne te betaal wat die herstelwerk sou doen.

11. Hulle het dit aan die skrynwerkers en bouers betaal wat gekapte bouklippe en hout vir dakkappe moes koop om die tempel te herstel, wat deur die vorige konings van Juda verniel is.

12. Die manne het hulle werk deeglik gedoen. Die opsigters oor die werk was die Leviete Jagat en Obadja uit die Merarigroep en Sagaria en Mesullam uit die Kehatgroep. ’n Ander groep Leviete, wat vaardige musici was,

13. is in beheer van die draers en die arbeiders met hulle verskillende soorte werk geplaas. Nog ander Leviete is gebruik as sekretarisse, klerke en poortwagte.

14. Terwyl hulle die geld bymekaargemaak het wat die mense na die tempel van die Here gebring het, het Gilkija, die priester, die wetboek van die Here gekry. Dit is die wetboek wat die Here vir Moses gegee het.

15. Gilkija het vir Safan, die sekretaris, gesê: “Ek het die wetboek in die Here se tempel gekry!”Gilkija het toe die boekrol vir Safan gegee.

16. Safan het die boekrol dadelik na die koning gebring en verslag gedoen: “Almal vir wie u werk gegee het, is aan die gang.

17. Hulle het die geld wat in die tempel was, bymekaargemaak en vir die kontrakteurs en werkers gegee om met die werk aan te gaan.

18. Maar daar is nog iets, U Majesteit. Die priester Gilkija het dié boekrol daar gevind en vir my gegee.” Safan het dit toe vir Josia voorgelees.

19. Nadat Josia gehoor het wat in die wetboek staan, was hy so ontsteld dat hy sy klere geskeur het.

20. Hy het dadelik ’n afvaardiging saamgestel wat uit Gilkija, die priester en vier senior amptenare bestaan het. Hy het vir hulle gesê:

21. “Gaan praat namens my en die hele volk met die Here oor wat in hierdie boek staan. Ons voorouers het hulle nie gesteur aan die boek se inhoud nie. Die Here moet baie kwaad wees vir ons omdat ons nie gedoen het wat in die boek staan nie.”

22. Hulle is toe na die profetes Gulda toe, wat in die nuwe deel van Jerusalem gewoon het. Haar man was Sallum, wat verantwoordelik was vir die klerestoor by die tempel. Gilkija-hulle het haar vertel hoekom hulle daar was.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 34